
VAN WENNERS EN MOMPELINGE
Winburg is een van die eerste dorpe wat deur die Voortrekkers in die Oranje Vrijstaat gestig was. In 1935 het Andries Potgieter en ‘n groep setlaars die regte van ‘n strook grond tussen die Vet en Vaal Rivier by Makwana, die kaptein van die plaaslike Bataung stam, verkry. In ruil vir die grond het Potgieter en sy manne beskerming aan die Bataung mense en hul beeste gegee teen aanvalle van die Matabeles.
Winburg se naam was oorspronklik “Wenburg“, vernoem na die wenners van ‘n lang uitgerekte argument oor die beste posisie waar die dorp opgerig moes word. Die verloorders het van daardie dag af na die dorp verwys as ”Mompeling“.
Die beroemde generaal Koos de la Rey is in die Winburg distrik gebore. Saam met sy getroue perd Bokkie het hy en sy manskappe onverskrokke tot die bitterend teen die oormag Britte geveg.
Op 9 en 10 Desember is ons ruiters en hul perde in Winburg, in die spore van die vyf Voortekkerleiers Tregardt, Potgieter, Maritz, Retief en Uys as hul besoek aflê by die Vrystaatse Voortrekkermonument – ‘n uitsonderlike gebou ontwerk deur die argitek Hans Hallen.
Vyf halfronde suilvorms staan beskermend teenaan en teenoor mekaar. Soos wat die son gaan sak sal die monument se skakerings van beligting verander en die gesigpunte vertiendubbel namate tyd en ruimte verwissel. En soos wat ons ruiters en hul perde teruggevoer word na die verlede, sal hul die runnik van Scot, President Steyn se staatmakerperd hoor, as hy trots galop na die president se geboortehuisie waarvan vandag slegs nog die bouval op die terein te sien is.
Volledige besonderhede oor die Herdenkingsrit is hier te kry.

