BlogsOpinion

Was dit jou 4×4 in Ferreirastraat?

Iewers gly 'n eensame Melrose kaassmeertoebroodjie oor 'n voorruit. Maar wheelie, sal ons wheelie.

Ek gaan kuier nie graag by my vriende in Steiltes nie.

Want wanneer ek en my rooi motorkar in Ferreirastraat ry, jaag die ander bestuurders my bloeddruk op.

My kar is ‘n rooi Ford Fiësta.  Hy het my R60 000 gekos, maar ek het hom onlangs teen ‘n paaltjie gestamp en hy is nou seker minder werd.  Ou Rooies is nogtans my kosbaarste en mees waardevolle besitting.

Rooies kan tot bo-aan die Ferreirastraat-bult ry, maar hy doen dit net met gemak teen 60 kilometer per uur.  Nie een kilometer per uur vinniger nie.

Raai wat?  Die wet vereis dat nie ek of jy vinniger as 60 kilometer per uur in ons stad mag ry nie.  Probleem opgelos?

O nee!

Mbombela steur hulle blykbaar nie aan verkeersreëls nie.

Die deursnee Steiltenaar (of is dit nou ‘n Steiltesiet?) besit ‘n vier-by-vuurpyl.  Hulle druk-druk van agter af aan jou kar sodat jy vinniger moet ry.

Die oom klem sy vuiste om die stuurwiel en die voue van sy frons druk teen sy motor se voorruit.  Sy buffer vat-vat aan Rooies se kattebak.

Die tannie se kneukels is spierwit om haar stuurwiel.  Haar geverfde pinkienael wapper nes ‘n spastiese vlerkie soos sy die koplig skakelaar aan- en afsit.  Sy wikkel daai skakelaar dat ‘n mini-diskoteek in my tru spieëltjie afspeel.  Sy gooi haar ander hand in die lig en rol haar oë.  Sy dans op Rooies se buffer.

My vriendin het onlangs vertel dat sy met dieselfde probleem sukkel.  Die arme vrou bly in Steiltes en ry ook met ‘n beskeie koetsie.

“Jy moet hulle in die oggende beleef,” het sy gekla.  “In die middae ry hulle dalk so 80 kilometer per uur, maar as hulle soggens by die afdraende afwoer is dit iets belagliks.  En dan druk hulle my karretjie ook so uit die pad uit.  As hulle kon wheelie met kinders en skooltasse en al, sou hulle.”

Ek sien dit in my geestesoog.  Mamma wheelie, boetie se boeksak trek wie weet waar en iewers gly ‘n eensame Melrose kassmeertoebroodjie oor ‘n voorruit. Maar wheelie, sal ons wheelie.

Moenie dink dat ek ‘n probleem het met jou as jy vinnig ry nie, maar ry net vinnig sonder om my te teister.  Want weet jy wat ek gaan doen as jy weer so op my afpyl?

NOODSTOP!

Dit gaan vir my lekker wees.

Ek gaan stadig uit ou Rooies uit seil en jou vier-by-vuurpyl se registrasienommer neerskryf.  Ek gaan vir jou vra wat jou naam, van en telefoonnommer is.  Dan gaan ek die insleepdiens bel.  Soos ek hulle ken, sal hulle reeds daar wees – ‘n stuk of vier van hulle.

Alhoewel my spiere die volgende dag seer gaan wees, sal die wete dat jy die agterste kar bestuur het, my dadelik laat beter voel.

Tot dan.

(Nuwe lesers: neem kennis dat die Donderdag-blog ‘n reeks tong-in-die-kies insetsels is.  Moet my nie té ernstig opneem nie.)

 

 

 

 


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button