
Die beeldskone Mari Minaar sing nie net Country musiek nie, sy leef dit!
Oor haar liefde vir perde vertel Mari:
“My liefde vir perde kom van baie jongs af. Ek sal nooit die dag vergeet wat ek my eie perd persent gekry het nie. Dit was ‘n groot droom wat waar geword het. Ek was 10 jaar oud en kon nie ‘n naam kies nie. My pa het vertel dat sy eerste perd se naam Vonk was. Ek het baie van die naam gehou en sommer dadelik geweet dit is wat ek my perd gaan noem. Sy naam het verseker goed by hom gepas want hy was net soos ‘n vonk – vinnig en rats, ‘n ongelooflike dier. Vonk het my lewe verander. Hy was my heel beste maat. Elke dag na skool het ek tyd saam hom spandeer, en saam nuwe plekke ontdek. Hy was my “enigste” geselskap as kind. Ek het veel eerder tyd saam met hom spandeer as saam met my mensmaats. Vonk was vir 15 jaar deel van my lewe, en daar gaan nie ‘n dag verby wat ek hom nie mis nie. Daardie liefde vir ‘n perd kan mens nie vir iemand beskryf wat dit nog nie self al ervaar het nie. As ek nou terug dink hoe Vonk my as kind gestimmuleer het en rustig gemaak het, besef ek dat ‘n perd ‘n groot rol speel in ‘n kind se lewe. Hierdie liefde vir perde leef voort in my twee pragtige dogtertjies.“
Mari se liefde vir musiek kom ook ‘n lang pad. “Ek onthou toe ek klein was hoe ek my pa se Don Williams “tapes” deurgeluister het totdat ek dit later moes weggooi. Dis waar my liefde vir country musiek begin het. Don Williams is nog al die jare vir my n groot inspirasie. Country musiek is in my bloed; dit is soos kos vir my siel.”
Mari sing al vandat sy ‘n dogtertjie was. “My ma vertel hoe ek al singende skottelgoed gewas het. Ek wou ook nie persente soos poppe gehad het nie. Enige musiekinstrument of iets met musiek te doen het my vreeslik opgewonde gemaak. Ek het begin deelneem aan sangkompetisies op die ouderdom van 14 jaar. Het nie regtig op n jonger ouderdom die geleentheid gehad nie. Ek is een van vier kinders en het op n plaas groot geword net buite Koster. My ouers het moeite gedoen om my te vat vir musieklesse en ek het begin optredes doen op die ouderdom van 16 jaar.“
Mari skryf self en daaglikse dinge wat om haar gebeur is haar inspirasie. Sy tree gereeld op by groot feeste in SA en het ook al in die buiteland opgetree.
“Ek doen tot vier optredes per week. Elke oomblik op die verhoog voel nog vir my soos die eerste keer. Mense vra my soms of ek nie moeg raak om so baie op die pad te wees of laat aande eers by die huis kom nie, maar daardie oomblik op die verhoog maak beslis op daarvoor. As mense na die tyd na my toe kom en vertel dat hulle hoendervlies gekry, of ek sien dalk ‘n traan of selfs net n glimlag of uitdrukking op ‘n gesig, kan ek sien my musiek dra ‘n boodskap oor. Dis wat my laat doen wat ek doen.”
Mari is ‘n ondersteuner van die 2015 Herdenkigsrit. Sy gaan Saterdag 28 November dou voor dag om 07:00 by die Voortrekkermonument optree wanneer die ruiters van daar af gaan wegspring op hul epiese 19 dae lange rit. Sy gaan ook die ruiters langs die pad aanmoedig wannneer sy op 3 Desember gaan optree tydens ‘n kampvuuraand tussen Parys en Koppies.
Volgende jaar is ‘n groot jaar vir Mari. Sy gaan saam met drie ander kunstenaars in Australië toer en haar album word vrygestel.
