
Dit is vroegoggend en daar is ‘n ligte briesie in die lug. Die masiewe groot graniet Voortrekkermonument is skuins voor ons terwyl Ds Hannes Noeth die ruiters en ondersteuners toespreek.
Die perde – Rommel, Dirya, Eaton, Khamir en Inka – se ore is gespits, hul spiere bultend in afwagting en opwinding.
’n Toonbeeld van wat Ds Noeth preek vanuit Job 39:
“Gee jý vir die perd sy krag, sit jý vir hom maanhare aan?
Het jý gemaak dat hy kan spring soos ‘n sprinkaan, dat hy almal bang maak met sy trotse gesnork?
Hy kap die grond met sy pote en trippel rond, met krag skiet hy vorentoe, die geveg in.
Bang wees bestaan vir hom nie, hy skrik nie, hy deins nie terug vir oorlog nie.
In die koker aan sy sy ratel die pyle, die spies en die swaard blink in die son.
Opgewonde en oorgehaal kap-kap hy die grond, hy kan nie wag vir die blaas van die trompet nie.
By die blaas van die trompet runnik hy, hy weet die geveg kom, hy ken die offisiere se bevele en hulle krygskrete.
Die ruiters is ewe opgewonde. Die verlange om die lang pad aan te durf en die stad se geraas agter te laat word nog groter as die gewilde country sangeres Mari Minaar hul toesing met haar splinternuwe lied “Die Bosveld Song“.
Uiteindelik breek die groot oomblik aan! Na maande se voorbereiding en beplanning is hulle in die saal.
Die avontuur begin en die eerste uitdaging lê reeds om die draai.
Dramatiese kruising van die Hennopsrivier
Die Hennopsrivier vloei sterk en die span moet daar deur. Soos die Voortrekkers van ouds staan die ruiters staam en beur voort! Met moed en humor is hulle deur. Johan vertel: “Theunis verken die weg vooruit met Khamier terwyl ek te voet volg. Dit is nie onmoontlik net moeilik. Een vir een word die perde deur ‘n nou driffie geneem. Nie een het verdrink nie. Almal het kop bo water gehou!“
