Dag 7 – 4 Desember 2015 – Koppies
Nou kyk, ‘n donkie bly nou maar net ‘n wonderlike ding! Donkie en sy maat Sebra verwelkom die perde met tipiese Vrystaatse gasvryheid. Vir ‘n rukkie hardloop hulle langs die ruiters al langs die kampdraad – en ons onthou die geweldige groot rol wat donkies en sebras in die geskiedenis van ons land gespeel het.

Net na 07:00 ry die ruiters na ‘n rustige nagrus vanaf oom Van Loggerenberg se plaas. Tipies van Arabierperde is Khamier en Inka vuur en vlam en vol lewe, gereed vir die 18 km rit. Die Boerperd Rommel wat nog nie ‘n millimeter gewig verloor het nie is soos ‘n dieselenjin – as hy eers loop kan niks hom stop nie.
Die lug ruik skoon en vars en die grond is nat van die goeie reën van die vorige dag.
Skielik steek die perde vas. Dit is veral Khamier wat nie kan glo wat hy sien nie. Wat kom daar aan gehardloop? Verontwaardig bekyk hy die vreemde „perde“ van kop tot hoewe! Die een se ore is langer as die van ‘n springhaas en die ander een dra net sulke strepies pajamas as ruiter Johan „Bittereinder“ Nell!
Nou kyk, ‘n donkie bly nou maar net ‘n wonderlike ding! Donkie en sy maat Sebra verwelkom die perde met tipiese Vrystaatse gasvryheid. Vir ‘n rukkie hardloop hulle langs die ruiters al langs die kampdraad – en ons onthou die geweldige groot rol wat donkies en sebras in die geskiedenis van ons land gespeel het. Gedurende die Anglo Boere-oorlog is donkiemelk onder andere vir pasiënte in die Britse Mediese Pos gebruik. Sebra‘s is ook ingespan om swaar vragte te trek. Duisende van hierdie diere moes ook die hoogste prys in die oorlog betaal.
Na twee ure bereik die span die plaas van Regter Leon Halgryn waar hul bederf word met ‘n enorme ontbyt. Hier sal hul vir die volgende twee dae uitspan. More kry die perde kans om behoorlik uit te rus voordat hulle Sondag weer dou voor dag die reis aanpak.


