Ons stad is warm en vogtig in Desember. Menige Mbombelaner (of is dit nou ‘n Mbombeliet?) vat-vat so aan haar arm.
“Ag sies, ek voel so taai,” kla sy.
Vir iemand met ‘n kort humeur, is dié toestand vet op die vuur.
Dit befoeter jou bui sommer wanneer jy soggens jou oë oopmaak en ‘n natgeswete laken beneuk dak se kant toe skop. Van daar af is alles ‘n irritasie.
Nelspruit Post korrespondeer daagliks met ons lesers via aanlynplatforms soos Facebook en Twitter. In dié geselsery het ‘n hele trop klein jakkalsies al opgeduik.

Dit is netelige kwessies wat ons lesers irriteer.
Die koerant se Donderdag-blog het onlangs so ‘n kwessie aangespreek: padgebruikers wat te vinnig ry in Ferreirastraat. Bestuurders van klein karretjies word vies wanneer viertrekvoertuie op hul afpyl en teenaan hul kattebakke ry. “Bly uit die regterkantste baan. Probleem opgelos,” het Herman Schutte op Facebook voorgestel. Jaco Schoeman het hierop gereageer deur wetgewing in ag te neem: “Sodat mense kan jaag in daardie baan? Spoed bly beperk tot 60km/h.”
Ons stad se water- en elektrisiteitsvoorsiening loop gewoonlik klopdisselboom. Wanneer dit nie gebeur nie, vlam die humeure op en Silulumanzi en plaaslike munisipaliteitsowerhede moet omtrent bontstaan.
Boetebessies maak ons mense warm onder die kraag. Hulle kla gereeld aanlyn oor verkeersboetes en bevraagteken die wettigheid daarvan. “Dis korrup, ek sê jou,” het menige bestuurder al gebrom.
‘n Universele klagte wat ook hier gereeld aangehoor word, is die geteister deur telebemarkers wat net nie wil end kry nie. Hulle neem oproepe vir kwaliteitsdoeleindes op, al vloek jy hulle skaamteloos.
Terug by ons padgewoontes: Volgens mnr. Bongani Mashisane sukkel plaaslikes met verkeersirkels. “Dis asof hulle dit net nie ‘kop’ nie. Dis mos eenvoudig – as jy by die sirkel aankom, kyk regs en gee toe vir dié wat reeds in die sirkel is. As jy die eerste uitgang wil gebruik, bly in die linkerbaan. Waar jy die tweede of derde uitgang wil gebruik, sorg dat jy in die binnebaan bly totdat jy jou uitverkose uitgang bereik het.”
Nóg ‘n pes wat plaaslike padgebruikers irriteer, is bestuurders wat versuim om flikkerligte te gebruik wanneer hulle uit ‘n hoofweg gaan draai. “Hulle dui nie aan wanneer hulle gaan draai nie, maar slack af. ‘n Mens poer-poer agter hulle en, wanneer hulle skielik regs draai, kom jy agter dat jy hulle al lankal kon verbygesteek het.”
“Mense wat op hul selfone praat en doodluiters sit en klets terwyl die lig voor hul groen is, maak my ook vies. Mettertyd word die verkeerslig weer rooi – dít terwyl jy steeds sit en gesels op jou foon,” het ‘n ander leser gekla.
Nóg ‘n ding wat lesers die josie in maak, is ons professionele diensleweraars se fooie. Spesialiste word veral as peperduur beskryf in vergelyking met ander stede s’n. Toe die Donderdag-blog dit tesame met die alewige gewag in dokters se wagkamers aangespreek het, was daar gemengde reaksies. Die publiek het te kenne gegee dat dit hulle frustreer. Sommige dokters het gemeen dat hulle besige mense is en dat die publiek maar moet wag.
Of dit nou Donderdag, ‘n blou Maandag of naweek is, ons mense het altyd iets om oor te kla. Darem kom Kersfees ook – een van die dae.
