
Dis Donderdag en my skoen het gebreek.
Ek is ‘n besige mens en het veertig goed om te doen. Ek val sommer by die naaste klerewinkel in.
Die tannie kyk my teen ‘n 45° hoek aan. “Nee, liefie, dis ‘n boetiek hierdie. Ons verkoop deftige klere. Ek dink nie dis heeltemal jou styl nie,” sê sy en streel met haar lang naels oor die driesyfer prys van ‘n toppie wat onnodig baie blink. Ek wip my, haal my Dior sonbril uit my handsak en plant hom op my neus. Binne in die winkel.
1. Ek kan sien dis ‘n boetiek.
2. Ek sou nie daar ingestap het as ek nie stewige, duursame skoene wou koop nie.
3. ‘n Oormaat sequins is kitsch.
Om te sê dat ek bril en al daar weg is sonder om iets te koop sal seker nie nodig wees nie.
Waarom vind mense dit nodig om ten alle koste hul eie belangrikheid te beklemtoon? En om boonop daardeur te insinueer dat almal anders net nie die paal haal nie?
Dit laat my dink aan ‘n lastige ete wat ek onlangs moes bywoon. ‘n Klomp vroue het gesit en name uitruil van mense wat hulle na bewering ken. “Jy weet mos die-en-daai multimiljoenêr? Hy het onlangs hoenderkebabs langs ons swembad kom eet.”
Nou moet jy weet: sy het die multimiljoenêr se naam én van beklemtoon sodat almal seker kon wees van wie sy praat.
“Hoenderkebabs?” het die ander een gevra. “Dit herinner my aan die keer toe Richie Rich ‘n steak op my stoep kom eet het. Dit was so gesellig.”
Hierna het hulle hul rygoed vergelyk. Hulle het gesels oor waar hul kinders studeer en hoe uitstekend elkeen van dié kinders nou eintlik vaar.
Daar was onlangs ‘n vrou wat by dieselfde sosiale geleentheid as ek was. Sy het herdaaldelik vermeld dat haar kinders ‘n privaatskool bywoon en dat haar man ‘n prokureur is. “Hy het sy graad ge-cum,” het sy bygevoeg. ‘n Man wat homself as doktor so-en-so voorgestel het, het die kollig gesteel.
Ek wonder altyd waarom mense dit nodig vind om hulself uit te sonder deur na hul kwalifikasies, prestasies of hul besittings te verwys. Soms gebruik hulle sommer gesinslede se prestasies om ‘n gesprek aan die gang te kry.
Hoekom?
Daar is 7 kontinente, oneindig baie plant- en dierspesies en selfs die weer om oor te praat. Daar is meer as 7.4 biljoen mense op hierdie aardbol. Sommige van hulle is dalk minder interessant as jy. Weet wel dat van hulle altyd slimmer, maerder, mooier en ouliker as jy gaan wees.
Deur van jouself te praat, beklemtoon jy laasgenoemde. En die feit dat jy wens jy was belangriker as wat jy is.
As iemand by jou boetiek instap, verwelkom haar. Dis onnodig om te probeer vasstel of sy daar hoort of nie.
