Opinion

Deadline Dicta – Dit gaan my verstand te bowe

Ek het al ophou probeer om sin te maak uit wat in baie se koppe aangaan wanneer hulle óf as motoriste óf as voetgangers met 'n sebrakruising of 'n verkeerslig gekonfronteer word.

Daar is dinge waarmee die Bybelse Salomo geworstel het. Om die waarheid te sê – dit het sy verstand te bowe gegaan. “Daar is drie dinge wat vir my weggesteek is, ja, vier wat ek nie ken nie: die manier van die arend in die lug, die manier van ‘n slang op ‘n rots, die manier van ‘n skip in die middel van die see en die manier van ‘n man in sy jeug,” Spreuke 30:18-19.

Vandag weet ons presies hoe al hierdie dinge in mekaar steek, maar steeds is daar dinge wat die verstand te bowe gaan. Hier praat ek nie van die onmenslikhede soos moord, verkragting en alles wat ‘n ander siel pyn en leed aandoen nie.
Nee, ek praat van die eenvoudige dinge waarvan mense kennis dra, maar hulself net nie sover kan kry om te doen wat moet gedoen word nie. Hordes sulke dinge gaan mý verstand te bowe, maar vandag is daar net tyd vir twee. Een daarvan is die doel van ‘n sebrakruising en ‘n ander die van verkeersligte.

Ek het al ophou probeer om sin te maak uit wat in baie se koppe aangaan wanneer hulle óf as motoriste óf as voetgangers met een van die bogenoemde gekonfronteer word. Leer ons tog nie kleintyd al ons kinders die woorde van die immergroen kleuterliedjie nie?
“Stop sê die rooi lig, ry sê die groen lig, oppas sê die geel lig – oppas wat jy doen!” Tesame met dit word kinders ook geleer dat voetgangers voorrang by ‘n groen lig geniet.

Staan ek mos nou die dag in my voertuig by die kruising langs NTT Toyota in Crownstraat. Die lig is rooi vir my – daarom het ek stilgehou.
Dit is laat en daar is geen verkeer nie. Hier voor my aan die oorkant van die pad staan ‘n vrou wat die pad wil oor. Die lig is groen vir haar en sy kan dit met ‘n geruste hart doen.
Langs haar staan ‘n swart straatkat. Die kat kyk links en regs en heen en weer en loop oor. Slim kat. Sy staan vas in haar spore. Die lig slaan groen vir my en rooi vir haar en skielik kry haar voete lewe en sy loop – reg voor my in. Dit gaan my verstand te bowe.

Die sebrakruising. Mense, daai lyne is nié geverf om die monotoniteit van die padoppervlak te breek nie – nee! Wanneer jy ‘n sebrakruising nader en daar staan mense en wag, dan STOP jy. Ek wag nog vir die dag wat een of ander voertuig my óf raakry wanneer ek een van dié kruis, óf in my voertuig se agterent vasry wanneer ek stop vir voetgangers wat kruis.

Ja, dit gaan my verstand te bowe dat die uitvoer van hierdie eenvoudige aksies andere se verstand te bowe gaan. Miskien moet ons Daantjie Kat terugbring, of miskien nie. Die laaste wat ek gehoor het was toe Clarence Hobbs van die verkeersafdeling met goeie intensies in dié gewaad geklim het om kinders by ‘n skool te gaan leer van padreëls.
Ongelukkig het dit in ‘n gegil en geskree ontaard met kleintjies wat oor drade en mure gespring het om weg te kom nog voor die arme Daantjie behoorlik uit sy voertuig geklim het.

Soos die res hierbo, gaan dit ook my verstand te bowe. Enige voorstelle?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button