BlogsOpinion

Dis DONDERDAG – ‘n middestad veilig genoeg vir ‘n ma en dogter uitstappie

Ons hier in Mbombela het baie om voor dankbaar te wees. Beskermengele in die middestad is bo-aan my lys.

My ma noem dit die middestad.  Ons noem dit deesdae die “CBD.”

My ouma dink dis net duskant die hel.

Gaan jy MIDDESTAD toe?!
Gaan jy MIDDESTAD toe?!

Ek ken mense wat hulle testamente hersien voordat hulle ‘n dorp of stad se middestad invaar.  Hulle wapen hulself met skokstokke en kleilatte en wie weet wat nog voordat hulle die plekke aandurf.  Hier en daar sal ‘n tannie nog ‘n handsakgrootte rewolwer ook inpak.

‘n Mens kan hulle nie daarvoor kwalik neem nie.  Baie Suid Afrikaanse stede se stadskerne is baie gevaarlik.  ‘n Handvol van my vriendinne wat in Pretoria se middestad werk, is al van hul handsakke, selfone en skootrekenaars beroof.

Jy kan dus verstaan dat my ma so ‘n paar weke op haar rug wou val toe ek haar middestad toe nooi.  Sy was in Mbombela op besoek vanaf Zambië en ek wou en sou haar vir ‘n dag saam met my werk toe neem.

Ek weet nie wat deur haar gedagtes geflits het nie, maar ek kan raai:

Jy nooi my middestad toe.  Beteken dit jy kom gereeld daar?

Kadoef. Stokflou.
Kadoef.
Stokflou.

Ons het die Vrydagoggend met ‘n stewige ontbyt en ‘n ekstra lang stiltetyd afgeskop.

Om 09:00 het ons in die Nedbank parkade parkeer en hof toe gestap, waarvandaan ek sou verslag lewer vir die koerant.  ‘n Stuk of sewe bekende gesigte het my vriendelik gegroet en hulle gang gegaan.  Nelspruit CID (City Improvement District) wagte het die strate in hulle oranje pakke gepatroleer en ons albei veilig laat voel.  Ons was nie vir een oomblik buite die gesigsveld van ‘n CID amptenaar nie.

By die hof het die een vriendelike hofamptenaar na die ander hom- of haarself aan my ma voorgestel.  Die plek het van hofordonnanse gewemel wat almal kom groet en geselsies aangeknoop het.

Die sekuriteitswagte leer my Si’Swati praat.  My ma ken die taal baie beter as ek en het vir my “Sawubona, kunjani, nikona,” ore aangesit.

Teen 16:00 kon sy verstaan waarom ek so veilig voel in ons stad se middedorp.  Sy het selfs ‘n jaagtog agter twee beskuldigdes aan (vir ‘n foto!) oorleef.

Die afgelope week se ervarings het my egter ‘n nuwe waardering gegee vir die mans en vroue wat veiligheid handhaaf in die Bester- en Brownstraat omgewing.  Toe ‘n hoogs kontroversiële saak Vrydag in die Nelspruit Streekshof gedraai het, was ek effens bewerig toe ek die massas mense voor die Nelspruit Landdroshof gewaar.

Die polisie het die sypaadjie voor die hof met rooi en wit plastieklint afgesper. Daaragter het meer as 100 bulderende gemeenskapslede hul woede heens vyf beskuldigdes en hul regsverteenwoordigers laat hoor.  Ek het diep asemgehaal en my kamera styf vasgehou voordat ek in die rigting van ‘n man met ‘n sambok in sy hand beweeg het.  My tande het omtrent geklapper van vrees toe ek myself aan hom voorstel.

Hy het beveel dat die groep opsyskuif sodat ek die hof kon binnegaan.  Toe hoor ek ‘n stem agter my: “Jy moet dink jy kan weer so waaghalsig wees.  Ek hou nog heeltyd ‘n oog oor die situasie.”  Dit was die stem van ‘n distrikshof ordonnans.  “Ek hou die storie al van doer af dop, jong,” het hy gesê en die deur vir my oopgemaak.  “Jy’s onverskillig,” het hy oor sy wysvinger gewaarsku.

Dit was nie die eerste keer dat een van die hof se polisiemanne na my veiligheid omgesien het nie.  In 2014 wou die dogter van ‘n beweerde dief my te lyf gaan.  Die langste, grootste hofordonnans het skielik langs my verskyn en met sy diep stem “Hei!”gebulder.  Die veglustige dogter (wat toevallig op daardie stadium van aanranding aangekla was) is met ‘n spoed daar weg.

 

Om ander op te pas in ‘n plek soos die middestad is nie ‘n maklike werk nie, maar ons stad se mense kry dit reg.  Ek is mooi gevra om die hofordonnanse nie te identifiseer nie, maar hierdie is my manier om elkeen van hulle opreg te bedank.  Saam met die CID personeel, hou hulle ons veilig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button