BlogsOpinion

Dis DONDERDAG: Niemand hoef jou menswaardig te laat voel nie

Menswaardigheid is meer as 'n reg. Dis 'n plig.

 

Wat ‘n week.

Alhoewel dié blog normaalweg die draak steek met iets of iemand, is die skrywer daarvan vandag in ‘n ernstige bui.

Dit voel asof daar oral chaos heers.

Die Universiteit van Kaapstad se kunswerke is verbrand.  Kunswerke wat vir jare ‘n ereplek gehad het, is nou as wat iewers in die Kaap rondwaai.

Hier in die Laeveld het betogers in Sabie ‘n trok en ‘n dosyn bande aan die brand gesteek.  Besighede se deure moes gesluit bly, omdat inwoners met geweld gedreig is toe hulle probeer handeldryf het.

Ek hoor daar word gestaak in Pienaar.  ‘n Liewe vrou wat ek ken woon daar.  Sy kon nie vanoggend werk toe gaan nie, omdat sy bang was dat sy raakgeskiet sou word terwyl almal om haar betoog.

Ek moes eergister Sabie toe ry om ‘n storie oor die protesaksie vir die koerant te skryf.  ‘n Groep toeriste is saam met my voorgekeer.  Die polisie het ons aangeraai om ‘n u-draai te maak en die omgewing te verlaat.

Een van die toeriste wou weet waarom daar betoog word.  “It’s a way of expressing dissatisfaction with the fact that your rights are not being honoured, “ het ek probeer.

“This is not how we do things in Sweden,” het hy met groot oë opgemerk.

 

In tye soos hierdie, dink ek aan ons grondwet se handves van menseregte.  Dié dokument belowe baie dinge.  Dit belowe dat jy met jou geboorte outomaties geregtig is op lopende water, elektrisiteit en basiese onderrig.  Dit gee jou ‘n reg op menswaardigheid en sê dat jou privaatheid gerespekteer moet word.  Dit beloof vryheid van spraak.

Ongelukkig is dit ‘n feit soos ‘n koei dat daar elke dag iets met jou gaan gebeur waaroor jy geen beheer gaan hê nie.  Dit word “die lewe” genoem.

Dalk word jy in die lewe gebring deur ‘n ma wat nie lopende water of elektrisiteit in haar huis het nie.  Dalk maak jy miljoene rande, net om alles te verloor.  Miskien word jy die slagoffer van seksuele teistering.  Dalk praat jy jou mond verby en land pens en pootjies in die sop.

Sulke dinge maak inbreuk op die regte waarmee jy gebore is.

Hoe gaan jy dit hanteer?

Ek het myself in ander se skoene probeer plaas en besef dat die lewe vir sommiges moeiliker is as ander.

“Waarom word my reg op menswaardigheid nie gerespekteer nie?” het een betoger Dinsdag moedeloos vir my gevra.

Sy vraag het in my kop bly draai totdat ek besef het dat ons menswaardigheid anders kan definieer.  Dit is nie net ‘n reg nie.  Jou waardigheid hoef nie af te hang van hoe ander mense jou behandel nie.

Menswaardigheid is meer as ‘n reg.  Dis ‘n plig.

Dit is jou plig om waardig op te tree, omdat jy waardig is.  Wanneer die lewe jou ontstel of mense jou te na kom, tree só op dat jy kan sê: “Daar was ‘n probleem.  Ek is trots op die konstruktiewe manier waarop ek die probleem aangespreek het.”

Só neem jy beheer oor jou menswaardigheid.  Dan word dit iets meer as net ‘n reg op papier.  Dit word onlosmaaklik deel van jou.

Kliek hier vir ‘n meer humoristiese inskrywing: DONDERDAG – prokureur, kry maar vir jou ‘n mobiele kleinhuisie

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button