My ma vloek nie. Sy gebruik nie eers kragwoorde nie. Toe ek vyftien was, het sy haar bloedig vererg vir die busdiens wat laat was. Sy het die woord “blerrie” gebruik en bloedrooi in haar gesig geword. Of dit van woede of skaamte oor die kragwoord was, weet ek nie.
Ek was agt toe my ma my die eerste keer hoor vloek het. Ek weet nie waar ek aan die eenlettergreep-woordjie gekom het nie, maar ek het hom in my agterkop gebêre. Toe ek en my maatjie, Lilly, in ‘n stryery betrokke raak, het ek hierdie troefkaart in haar rigting geslinger toe Moeder om die draai kom.
Klein Helenetjie (dit was nou die kleiner ek) kon vir die volgende drie weke nie sit nie.

My groot mond en ek was al duisende kere saam in die moeilikheid.
Lees meer hier:
DONDERDAG steek die draak met dokters
Ervaring het my egter geleer dat ‘n toe mond ‘n heel mond is. En nee, my mond is lankal nie meer heel nie.
“As jy iemand dan móét slegsê, gebruik net eufemismes of vergelykings of iets. Of gebruik woorde wat hulle nie sal verstaan nie,” het ‘n kêrel op universiteit geadviseer toe die honderdste bullebak hom te lyf wou gaan na een van my onverskillige uitlatings.
Hiermee die belediger se gids tot teiken-vriendelike beledigings:
- Jy lyk nie mooi nie = Jy het gister beter gelyk. En ek is seker jy sal môre beter lyk as vandag.
- Ek wens vir jou die slegste toe (hier is meer as een) = Mag iemand met ‘n trapfiets voor jou op die teerpad ry. Mag hy vir minstens vyf minute nooit padgee nie en mag jy só met motors omsingel wees dat jy hom nêrens kan verbysteek nie. = Mag jou wrap se sous alles na die onderkant to afsak. = Mag daar ‘n piepklein klippie in jou kous vashaak. En mag jy dit agterkom nadat jy jou skoene se veters vasgemaak het.
- Is jy dom? = “E = mc 2, ne jong?”
- Daai ou is toe = “As jy die somtotaal van sy breinkrag vat en ‘n atoombom daarvan maak, sal dit nie eens ‘n muis se hoedjie van sy kop af kan blaas nie.”
Laasgenoemde het ek 23:00 een aand by ‘n braai in Pretoria se Moot gehoor.
Wanneer iemand loutere onsin praat, noem ‘n mens dit ‘n drieletter-woord, of:
KLAKKELOSE KOETERWAALS.
Is dit nie mooi nie?
Wanneer iemand nonsens praat, moet hom nie vloek of iets leliks toesnou nie. Stoot jou neus in die lug op en kondig uit die hoogte aan dat jy nie tyd het om na sy klakkelose koeterwaals te luister nie. Hy sal jou tien teen een nie verstaan nie, maar jy sal belangrik en slim klink.
En wen.


