“Ek was besadiger as sy en dit help die mooigeit aan.”
Hierdie een sin het my die naweek ondergekry.
Dit kom uit “Want kyk die Bruidegom is hier,” wat Saterdagaand deur Annette Engelbrecht opgevoer is.
“Ja,” het die vrou voor my gesê. “Besadigde vroue is mooier.”
Nee kyk, dan moet ek ‘n seelikkewaan wees. Want besadig was ek nog nooit nie. Ek dra bloedrooi lipstiffie, praat hard en is altyd op ‘n drafstap.

(www.mieliestronk.com)
Besadigde vroue loop nie te vinnig nie.

(Oorsprinklike foto: persunmallalice.files.wordpress.com)
Besadigde vroue is altyd kalm.


Besadigde vroue is nooit haastig nie.

Die Afrikaanse frase “werkende vrou,” het hierdie beeld uitgespoeg:

In die era waar mans en vroue beide moet werk om minstens die Two Minute Noodles in die kas te hou, mag ons as vroue maar ophou om die rol van die besadigde vrou te speel.
Ons is te besig en die lewe is te kort daarvoor.
- Jy hóéf nie alleen vir jou gesin aandete te maak nie. Doen dit almal saam of alleen – as ‘n uitdrukking van liefde, nie omdat jy moet nie. Dis ‘n voorreg om geliefdes te hê wat saam met jou onder een dak woon. Die feit dat jy kos het wat jy of jou man of selfs jou kinders vir die gesin kan voorberei, is iets om voor dankbaar te wees.
- Jy hóéf nie jou mond te hou as jy sterk voel oor ‘n kontroversiële onderwerp nie. Wat is die ergste wat kan gebeur? Iemand kan van jou verskil. ‘n Debat kan volg. Debatte moet nie met bakleierye verwar word nie. Eersgenoemde is goed vir die brein. ‘n Mens moet van tyd tot tyd kyk of jy jou standpunt nog met ywer kan staaf.
‘n Man het eenmaal vir my gesê dat ‘n vrou so min as moontlik grimering moet dra. “Dit moet só subtiel wees dat ek wonder of sy enigsins grimering aanhet.” Ek het my wenkbroue gelig en “uh” gesê. My grimering vir die dag het so gelyk:
As jy jou bloedrooi lipstiffie wil aansit werk toe, kerk toe of sommer net, doen dit! Dit lyk pragtig.
- Jy hoef aan niemand anders se idee van “mooi” te voldoen nie.
En as grimering jou gesig irriteer, hoef jy dit nie te dra nie. Weereens geld die reël dat ‘n ander se maatstaf, presies dit is – nie joune nie. Niemand se opinie oor jou grimering – of jou gebrek daaraan – behoort jou te beïnvloed nie. Jy hoef jou nie daaraan te steur nie.
- Jy hóéf geen materiële standaarde te handhaaf nie. Ek het op die ouderdom van 18 ‘n paar pyne ontwikkel. Een daarvan was mense se beheptheid met karre. “Piet moet meer suksesvol wees as Jan, want hy ry ‘n Jaguar.”
Hy ry nie ‘n Jaguar nie, hy bestuur een. En hoe weet jy dis afbetaal? het ek gewonder en wonder ek steeds.
Ek en my metgesel het te voet by my matriekafskeid opgedaag. Dit was baie “cooler” as almal se huurmotors.
- Jy hóéf nie pienk drankies uit dun glasies te drink sodat jy fyntjies kan lyk nie. Wie’t gesê vroue behoort nie bier te drink nie?
Castle Light bevat ‘n skrale 413 kilojoules per bottel. ‘n Glas rooiwyn bevat tussen 500 en 520 kilojoules.
‘n Meningspeiling op die webblad reddit.com getiteld “What do you think of girls who drink beer?” het hierdie vraag spesifiek aan mans gerig. Die meeste gebruikers het hulle met hierdie antwoord vereenselwig:
“Waarom sal ek omgee? Is mense kleinlik genoeg om dit te vra?”
- Gepraat van kilojoules: Jy hoef geen voorgeskrewe grootte te wees nie.
Om gewig te verloor is ‘n besluit wat geeneen ooit op jou mag afdwing nie. Die besluit om gesond te leef, is een wat elke mens self op die regte tyd neem. Om iemand daartoe te probeer dwing, vertraag die proses en kan groot skade aan verhoudings rig.
Daar is net een ding wat jy hóéf te doen: wees jouself.
Lees ook: Telebemarker, ek waarsku jou…


