BlogsOpinion

Drie gevalle van dood op die voorblad

Die hoofberig vertel van 'n vrou se dramatiese soektog na haar man. Hy het die vorige middag tussen die ou vliegveld en Nelspruit met sy motor van die brug by die Gladdespruit afgery en verdwyn.

MBOMBELA – Laevelder saam met sy voorgangers is vanjaar 130 jaar oud. Ons blaai ‘n bietjie terug deur uitgawes uit die verlede.

Op 16 Julie 1976 is daar niks minder as drie berigte van dood op die voorblad van Die Laevelder nie. Dit is vanjaar 40 jaar gelede en toevallig ook die dag waarop die Soweto-onluste in Johannesburg uitgebreek het.

Die hoofberig vertel van ‘n vrou se dramatiese soektog na haar man. Hy het die vorige middag tussen die ou vliegveld en Nelspruit met sy motor van die brug by die Gladdespruit afgery en verdwyn.

Die 29-jarige JC Strydom, ook bekend as Smiler van Witrivier, ‘n pa van twee en die eienaar van ‘n rekenaar-saak, was die middag op pad terug van die Aero and Social Club by die vliegveld toe hy sy kar omgekeer het en van die brug afgery het. Niemand het dit sien gebeur nie en die wrak was nie sigbaar van die pad af nie.

Toe hy nie by ‘n ete-afspraak kort na die voorval opdaag nie, is sy vriende terug om hom te gaan soek, maar sy voertuig het op die dak in die digte vleigras versteek gelê. Toe die soektog teen donker afgelas is, het sy vrou alleen deur die nag aanhou soek en volgende oggend sy motor met die lyk half onder die brug tussen die bosse gekry. Met die nadoodse ondersoek is bevind dat hy op slag dood is.

Sien ook: Wie onthou nog Oompies vir Boompies?

By ‘n foto van ‘n polisieduikeenheid uit Pretoria word vertel van ‘n besoeker uit Schweizer-Reineke, Jan Hough wat by die waterval in die botaniese tuin afgestort het. Hy was ‘n elektrisien en ‘n man met agt kinders wat in Witrivier met vakansie was.

Sy mense het vertel hoe hy onder die sperheining deurgekruip het om ‘n foto te neem en toe uit sig verdwyn het. Sy opgeblase liggaam is eers ‘n dag later, volgens berig, uit die bykans “bodemlose poel” onder die val gehaal.

Nog ‘n berig op die voorblad vertel van Theo Roland Hoffman, ‘n teller by Standard Bank op Witrivier wat homself in ‘n brandkluis by sy werkplek doodgeskiet het. Hy het ‘n brief aan sy ouers nagelaat. Ander slegte nuus op die voorblad was ‘n sesjarige kind uit Port Elizabeth wat tydens ‘n besoek aan die Krugerwildtuin saam met sy familie in ‘n konka gloeiende kole geval het en ernstige brandwonde opgedoen het.

Sien ook: Strip show causes moralists to choke

Onder aan die blad is daar belangrike sakenuus oor die Leyland motor-agentskap op Nelspruit wat te koop was. In die Leyland-stal was Austen, Mini, Jaguar en Land Rover waarvan drie steeds uiters gewilde handelsmerke in Suid-Afrika is. ‘n Advertensie op die voorblad gee die pryse van afslagdrank by Ye Wayside Bottle Store op Waterval Onder aan: R63 vir ‘n kis whisky (12 bottels), terwyl 24 buksies bier jou R6,50 sou kos.

Bottels brandewyn, jenewer, rietsnaps en vodka was R3,75 elk. Die handelsmerke word nie genoem nie.

LVF0108_001_1163058626

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button