Jy kan Margaret Thatcher, Madonna of die pous wees.
As jy lank genoeg by ‘n braaiplek in die wildtuin stilsit, sal ‘n wildtuinvoël op jou tjorts.
En as jy ‘n glas wyn vashou, sal dit daarin land.

Ek sit nou en dink aan dinge wat maar met ons almal gebeur. Dinge wat maak dat jy maar net so kommin is soos die ou langs jou.
Onthou jy “Die Vierde Kabinet?”
Dit was ‘n televisiereeks wat in 1998 op SABC 2 gewys het. Superindintent Yster Swart was my gunsteling karakter.

Ek het sy bekende sêding op Google begin intik:

Ek kan net nie ‘n stink houding hanteer nie. Meerderwaardigheid en ongeskiktheid is twee goed wat my só opwen dat ek so te sê as kragopwekker kan instaan.
Mense wapen hulleself teen die aanslag van die media met juis hierdie twee goed: meerderwaardigheid en ongeskiktheid.
My eerste dag in die mediabedryf het so verloop:

“Nee! Ek gaan nie met jou praat nie!” het hy geblaf dit nog voor ek myself kon voorstel.
Ek het mense daarna van ver af begin benader. Buite klapafstand.
“Julle is geitjies!” het ‘n vrou by ‘n misdaadtoneel gesê.

Dis meer as ‘n jaar later en dinge is nog net dieselfde. My vel het net dikker geword.
Dinge wat my ‘n jaar gelede in trane sou hê, herinner my nou daaraan dat mense vreemde goed is. Wanneer iemand jou met agressie benader, beteken dit dat hy jou vrees. En ‘n mens vrees net die dinge wat jou daaraan herinner dat jy toe nie so belangrik is soos wat jy gedink het jy is nie.
‘n Staatsadvokaat het onlangs baie vreemd gereageer op ‘n vraag wat ek aan hom gestel het oor die bewysreg. Hy’t my op- en af gekyk asof ek hom vreeslik geirriteer het. “Ek weet nie. Google dit.” Hy het haastig bygevoeg: “jy hou mos so baie van Google.”
Ek weet tot vandag toe nie hoe hy weet of ek van Google hou of nie. Sy ongeskikte houding het wel een ding bevestig: hy kon nie my vraag antwoord nie en dit het hom ongemaklik laat voel.
Meneer, los maar die skans van mislikgeit waaragter jy so skuil. Dis in swak smaak en, om doodeerlik te wees, irriterend. Jou smartgeit wat jy so verbete beskerm, is in elkgeval net in jou kop.
Want wildtuinvoëls tjorts in almal se wyn.
Ons almal moet belasting betaal.
En almal gaan eendag stof word.

