BlogsOpinion

By Die Laevelder veertig jaar gelede

So is koeverte met onontwikkelde film en berigte wat dikwels met die hand geskryf is, van plekke soos die wildtuin met 'n skoolbus aangery en afgelewer.

Verlede week het ons ‘n oudnuusredakteur van Laevelder, Elsabe Smit hier aan die woord gestel. Sy was eers verslaggewer en toe, tot 1987, nuusredakteur by Die Laevelder – later Laevelder. Hierna is sy na Pretoria waar sy by die SAUK op senior vlak afgetree het.

Sy is ook sedertdien weer getroud en staan deesdae as Elsabe Steyn bekend. In ons 130ste herdenkingsjaar het Elsabe onlangs by ons kom inloer.

Ons het haar gevra om bietjie haar herinneringe van destyds neer te pen. Hier onthou sy hoe anders dinge nog op tegniese vlak was voor die moderne kommunikasiestelsels van vandag:

“Voor die koms van die rekenaar was nuusberigte op tikmasjiene geskryf, waarna dit per hand geredigeer is. Nádat die bladplan van die advertensieafdeling ontvang is, het die redakteur, André du Plessis, die kopie en foto’s wat deur my, die nuusredakteur, verskaf is per hand en met behulp van ‘n Emsliniaal uitgemerk. Daarna is die kopie na die setters gestuur.

“Films is per hand in ons eie donkerkamer ontwikkel. Dit was ook ‘n tydsame proses.

“Bydraes en films van medewerkers het die kantoor op verskeie vreemde en eiesoortige maniere bereik. So is koeverte met onontwikkelde film en berigte wat dikwels met die hand geskryf is, van plekke soos die wildtuin met ‘n skoolbus aangery en afgelewer. Ander medewerkers het enige geleentheid na Nelspruit gebruik om hul bydraes hier te kry.

“In die sowat 10 jaar wat ek by die koerant was, was Jan Cilliers die eienaar/bestuurder en André du Plessis die redakteur. Na Jan se vertrek is Gerrie van Rensburg as hoofbestuurder aangestel. Schalk van Schalkwyk het André as redakteur opgevolg.

“Ek beskou André as een van die talentvolste joernaliste en bladuitlegkunstenaars met wie ek gewerk het. Hy het ‘n Vrydagkoerant van 108 bladsye van 11:00 Dinsdae tot 11:00 Donderdae met gemak deurgewerk, opgetrek en afgehandel.

“Die Laevelder se sukses in daardie tyd kan ook toegeskryf word aan senior joernaliste se ywer. Mense soos Bill Prinsloo (redakteur van die Laeveldse Boer), Audrey Walker (senior joernalis), Wim Bosman (skepper van Louis die Laeveld Leeu) en die bekwame fotograwe Richard Wilson en wyle Isobel van der Spuy.

“Vir die skryf van hierdie stuk wil ek ook vir Ronel Kotzé bedank wat met die navorsing gehelp en inligting deurgegee het. Sy was verslaggewer en is later ook as nuusredakteur aangestel. Ronel was van 1983 tot 1989 ‘n redaksielid.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button