Liesbet van die Laeveld – Bloedbad in die suburbs toe skrywer te veel energiedrankies drink…
Herinneringe is 'n vreemde ding... Jy kan in die wildtuin 'n uitblinkerhond teëkom wat stropers plattrek voor brekfis en skielik onthou van 'n bloedbad of twee op jou voorstoep veroorsaak deur 'n amper soortgelyke dierbare langoortjie... En renosters het niks daarmee uit te waaie gehad nie!
Een van die Nasionale Kruger Wildtuin se K9-eenheid se langoor werkershonde kom snuffel tydens ‘n gesprek oor die eenheid se werk in die Kruger Nasionale Wildtuin aan my tone. Ek buk af en streel sagweg oor die fluweelsagte vel en swaai-ore. ‘n Lieflike “fox hound” soos Johan de Beer, grootbaas van die eenheid, die honde noem. Die kraalogies kyk sjarmant na my op. Bekoorlike glimlag om die bekkie.
Maar die skattige ding bluf my nie. Sy is heeltemal te soortgelyk aan ‘n lieflinghondjie in my verlede. ‘n Beagle met houding. Die houding van Vin Diesel in sy karjaagfilms.
Meteens kom ‘n prentjie by my op wat my in sweet laat uitslaan. Nie omdat ek hier midde-in die renosterstropingsoorlog met van die voorste veldwagters gesels oor uitblinkerhonde wat renosterstropers sonder enige genade plat trek nie, maar oor my gedeelde verlede met so ‘n langoorbrak wat sekerlik ook stropers meedoënloos die stryd sou kon aansê.
As ek nou daaraan dink, sou tawwe renostersindikate die hasepad terug China toe kies as hulle met haar vegtersvernuf kennis gemaak het.
Sy is ‘n produk van die suburbs maar wilder as die wildtuin.
Kyk, net om haar te bad was reeds ‘n oorlog op sy eie. Dit het jou nogal voorberei om self ‘n stroper kaalvuis aan te vat.
Mens begin deur jou Bokserhond na ‘n ander buurt te neem om die skade aan eiendom te beperk. Dan kom jy tuis en trek jou oudste t-hemp aan.Dan sit jy jou selfoon in jou broeksak. Spoedbel reeds op die regte nommer aangesit. Net soos laas keer.
Hierna bel jy die buurtwag want met die getjank en geblafsingery gaan bure se alarms afgaan (soos die vorige keer) en almal gaan buitendien dink daar word ingebreek by die Parkers.
Dis baie nodig dat jy ook bure van die voorgenome bad in kennis stel soos die oorywerige diere-aktivis Cat Lady-buurvrou oorkant jou want sy kom los altyd netjiese, beleefde briefies oor die getjankery omdat sy vermoed die hond word mishandel. Beagles blaf mos nie, maar sing soos Pavarotti op steroids. So, jy moet ook die Dierebeskermingvereniging bel vooraf en sê die kwaai Cat Lady gaan bel: hulle kan haar senuweeagtige oproepe ignoreer.
Dan sit jy vir jouself ‘n energiedrankie neer en omkoopsnoepgoed soos duur Woolies-biltong vir die Beagle. Jy stoot die uitgeslape kat eenkant toe wat katnuuskierig ‘n ongesonde belangstelling in die hele situasie ontwikkel. Hy leef mos nou al ‘n rukkie saam met die bloedbadoggende. Jy neem ‘n slukkie van energiedrankie as voorsorgmaatreël.
Jy stap dan nonchalant deur die huis en dink glad nie aan die bad nie want agterdogtige Beagles kan gedagtes lees en die geringe gedagte aan hondesjampoe kan ‘n daglange stryd afgee. Jy glip jou oog oor waar die noodbeheerstasie met die bad en handdoeke regstaan, buite sig.
Nou vir die oorlogstasies! Jy neem die kruipende houding van iemand in ‘n SWAT-span aan die oomblik wat die Beagle ontspan. Jy slaan toe soos ‘n Cheetah-rugbyspeler aan die begin as hulle nog glo hulle kan wen. Die oomblik wat jy haar sien, duik jy haar plat.
Natuurlik werk dit nie. Jy moes dit soos ‘n Stormer gedoen het en dis hoekom jy nou soos Usain Bolt jou eie tuin deur hardloop en broodbome in die proses ruineer. Uiteindelik slaan jy toe in die hoekie van die tuin al sien jy net hondetande.
Uiteindelik stap jy met die Beagle soos ‘n vark onder jou een arm na die bad (die ander arm bloei te veel), vir ‘n oomblik oorwinnend. Jy neem ‘n slukkie van energiedrankie. Jy bied snoepgoed aan en jaag die agie-kat weg wat dink die biltong is vir hom.
Nou spuit jy die sjampoe vanuit ‘n dizzy height (miskien het jy nou te veel energiedrankieslukkies geneem) op die borselhare wat van verergdheid regop wip sodat jou sagte onderarmvleisies nie deur die skerp happende tandjies bygekom kan word nie. Jou ander hand is ferm op die halsband wat besig is om oor die hangoortjies te skuif.
Jy ignoreer doelbewus die sjampoe se aanwysings van “was met ferm sirkelbewegings.”
Niks is ferm in die situasie nie behalwe die Beagle se hardkoppigheid.
Jy oorweeg werk in die sirkus as ‘n een van daai meisies wat hulle voete so agter agter hulle koppe plaas terwyl hulle glimlag en dromme speel. Want so kan g’n normale mens haarself knoop om net die binnekante van een Beagle-hond se pote skoon te kry nie.
Jy drink weer die energiedrankie en weet hoekom mense met ‘n babelaas hierop staatmaak. Jy gee die kat ‘n oorveeg want sy oorywerige belangstelling in die biltong is lastig. Hy kies nou kant met die Beagle en ruik ook bloed. Jou bloed aan sy skerpe kloutjies.
Dan skeur jy pleisters met jou een hand en mond oop en plak dit futiel op jou wonde want dit gaan net afskuif van al die nattigheid. Die hond is nou vol van jou bloed; so jy moet van vooraf begin wat ‘n nuwe gebytery en bloeiery afgee todat jy harder skree as wat sy blaf en die Buurtwag in elk geval oor die muur begin loer.
Nou ignoreer jy die energiedrankie want jy is nou so bewerig jy lyk soos iemand met sy vinger op ‘n kragprop en toe kom Evkom se beurtkrag skielik aan.
Jy gee die Beagle-snoepgoed aan om almal te kalmeer. Voer die oorwinnende kat ook en vee die bloed en sjampoe van sy kop af wanneer hy ernstig begin nies.
Die Beagle-hond sien die gaping, kry haar kop uit die halsband en spring met ‘n boog uit die bad en jy sit haar weer agterna. Jy ruk die sproeierkop van die tuinslang af in die verbygaan en jaag haar verwoed met spuitende tuinslang agterna. Jy slaan neer oor die kat wat van die wild swaaiende tuinslang se sproei wil wegkom.
Die man van die Buurtwag roep al die bure nader. Jy het nou ‘n gehoor. En hulle aanmerkings is nie vleiend nie alhoewel almal hulle verkneuter. Jy verstaan jou reputasie as oorernstige skrywer van dagstukkies is nou finaal daarmee heen.
En dan gee jy op en kruip tot by die energiedrankie, smyt dit bewend eenkant neer en haal jou selfoon uit. Jy druk die snelbelnommer. Bel die hondesalon. Vir die soveelste keer. “Hello Groom Saloon?” sê jy en bid vir ‘n klam lappie op jou voorkop en ‘n donker kamer om in te lê.
