
Daar is mense wat enigiets sal doen om hulle “zeff” weg te steek.
Hulle sal hulle herkoms, doen en late ontken.

(Foto: The spincycleblog.com)
Party sal geld leen vir ‘n huis in Skuldbult.

Die meeste mense wat probeer om deftiger te wees as hulleself, sal altyd maak asof hulle geensins in ‘n gebroke wêreld leef nie. Dis tog per definisie wat ‘n snob doen, nie waar nie? Hy probeer elke dag nog deftiger wees, wat beteken dat hy konstant meer ongelooflik moet wees as…wel… as homself.

(Foto: benonicitytimes.co.za)
Daar het ‘n tyd terug so ‘n vrou saam met my gewerk. ‘n Klomp van ons het om ‘n tafel gesit en gesels en die onderwerp van dwelmverslawing het ter sprake gekom. Die meeste van ons het iemand geken wat al met ‘n drank- of dwelmprobleem gesukkel het.
“Nee wat,” het sy gesê. “Ek assosieer my nie met sulke dinge nie.”
My pa noem dit volstruistaktiek: wanneer jy jou kop onder die grond indruk en maak asof die werklikheid nie bestaan nie. Dit gebeur wanneer die werklikheid jou ongemaklik maak.

Die waarheid is dat elke mens op aarde ‘n stukkie “zeff” iewers in hom het. Ietsie wat iemand anders sal noop om jou as ‘n fieta te beskryf.
Wat is ‘n fieta?
Hulle bly “anderkant die treinspoor” en doen dinge glo anders. “‘n Mens word nie saam met ‘n fieta gesien nie,” het baie moeders al gewaarsku. Hulle tree nie altyd gepas op nie en kla mekaar so nou en dan oor en weer aan van ‘n gevloek of ‘n geklap. Of ‘n geheen-en-weervryery. Dit ontaard soms in ‘n slordigheid.
Maar is ek, wat myself ‘n non-fieta noem, enigsins ‘n beter mens?
Hierdie vraag het my onlangs herinner aan ‘n onderwerp waaroor ons in die laerskool tydens redenaarskompetisies gesels het: “grille en giere.” Baie van ons het besef dat mense se giere en geite nie eintlik grille werd is nie. Dit is eerder die Tobasco van die lewe. Daarsonder sou alles maar bra eentonig gewees het.
Hulle maak ons lewens interessant:





Ek sou iets gesê het oor mense met enorme klanksisteme in hulle karre, maar toe dink ek aan die musiekversameling in my Ford Fiesta. Ek het geen bykomende luidsprekers of klankversterkers nie, maar wel twee Jack Parow CDs. Baie mense dink dis “zeff.” My Ultimate Hard Rock Collection word so hard geluister dat die katte in die buurt begin huil wanneer ek kafee toe ry. As dit nie ‘n fieta ding was om te doen nie, het ek seker “soveel base in my kar gehad, jy sou kon sweer dis ‘n makeup shop” – in die woorde van einste Parow.
‘n Vriend het weer die gewoonte om sy Sondagwyntjie uit ‘n gewone kort glas te drink. Die rede daaraagter is prakties: hy is lomp en sal ‘n fyn wynglas kort voor lank omstamp. Maar om wyn uit so ‘n glas te drink, bly maar ‘n vreemde ding.
Iemand anders is gek oor suurlemoen en sout. Hy kan nie by ‘n restaurant in loop sonder om ses suurlemoene en sout te bestel nie. Hy eet die goed dan een vir een. Dis iets om te sien.
Wat jou plesiertjie is, weet ek nie. Maar elke diertjie het syne.

