Editor's choiceHard newsNews

Oosthuizen in arres voordat hy pres. Zuma kon arresteer

Een van die dorp se grootste kampvegters teen korrupsie en korrupte staatsamptenare, het Donderdagoggend sy rieme styfgeloop toe hy deur die polisie in hegtenis geneem is.

LYDENBURG – Mnr. Tinus Oosthuizen is op aanklagte van minagting van die hof, intimidasie en aanranding gearresteer. Die klagtes teen hom spruit vanaf ‘n mislukte veldtog om ‘n onafhanklike konstitusionele tribunaal in Lydenburg te stig. Hy het dit op homself geneem om korrupsie tot ‘n einde te bring en beamptes wat hy glo daaraan skuldig is, tot verantwoording te roep.

Oosthuizen se lasbrief is gedurende die week uitgereik, nadat hy versuim het om op 9 Mei in die hof te verskyn. Hy het vroeër in April ‘n hofproses ontwrig toe hy self die landdros, mnr. André Lamprecht, wou arresteer om dwing by die tribunaal te verskyn.

Volgens ingeligte bronne het Oosthuizen reeds die vorige Sondag tydens ‘n kerkdiens in die dorp probeer om hom in hegtenis te neem. Lamprecht, ervare en gesiene in die streek, is maar net een van talle groot name wat deur hom “gedagvaar” is om voor die regbank te verskyn.

Die lys sluit onder andere die president, mnr. Jacob Zuma, minister van polisie, mnr. Nathi Mtwethwa, minister van justisie, mnr. Jeff Radebe, minister in die presedensie, mnr. Collins Chabane, kommissaris van die polisie, me. Victoria Phiyega en al die regters van die konstitusionele hof, in.

Behalwe dat Oosthuizen senior staats- en regsamptenare “gedagvaar” het om voor sy tribunaal te verskyn, het hy ook ongeveer R386 miljard vir onwettige vergoeding, wat, volgens hom, sedert 1982 aan die ANC en korrupte amptenare betaal is, van die staat geëis.

In die dokumentasie wat hy aan Steelburger/Lydenburg Nuus verskaf het, dring hy ook daarop aan dat die regbank ‘n interdik goedkeur wat hom teen moontlike verontregting deur die staat sal beskerm, asook vir hervestiging van hom en sy familie in Namibië.

Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Mabokalate Mashabela, het Oosthuizen Vrydagoggend in die hof verskyn, maar hy kon nie bevestig of die saak uitgestel is nie.

Kyk gerus na die video-opname van Oosthuizen se inhegtenisname hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button