Blitsvleuel kry sy kans
As daar nou 'n rugbyspeler is wat sy kanse benut, is dit die Steval Pumas se flinkvoetige vleuel, Rosco Speckman.

Hy is besig om goed naam te maak in die sewesgeledere.
Na baie suksesvolle oorsese toere vir die SA Akademiespan, het afrigter van die Blitzbokke, Neil Powell die week dié jongman ‘n kans in die nasionale span gegee wat volgende naweek in Las Vegas, VSA hul HSBC Sewes Wêreldreekstoernooi-titel gaan verdedig.
Volgens die Blitzbokke se skakelbeampte, JJ Harmse het Powell ‘n baie ervare groep gekies, wat 10 van sy gekontrakteerde spelers insluit en dan Speckman wat sy debuut in die nasionale span sal maak.
“Dit was ‘n relatiewe maklike besluit om die groep te kies.
Almal werk baie hard om die finale span te haal. Rosco was wel saam met hulle in Port Elizabeth tydens die Cell C- toernooi en was ongelukkig om nie te kon speel nie, maar met sy deursettingsvermoë en goeie spel verdien hy om in die toergroep te wees.
Hy was allermins die voorste drieëdrukker en ook die man van die reeks tydens die Punta del Este Sevens-reeks. Ek glo hy sal met sy positiewe gesindheid beslis ‘n bydrae in ons poging om die titel te verdedig, kan maak,” het Powell genoem.
“Ek kan net my hemelse Vader vir die talent en geleenthede wat die afgelope jaar vir my gegee is, dank. Dit is beslis ‘n geleentheid waarvan elke rugbyspeler droom – om daardie groen en goud oor jou kop te trek. Maak nie saak of dit vir die 15-man span of sewes is nie, dit is steeds vir jou land.
Die groep werk hard en ek sal beslis 300 persent gee, sou ek speelkanse kry,” het Speckman gesê.
“Sou ons die toernooi beseringvry afsluit, sal dieselfde span na Nieu-Seeland toer vir die Wellington-toernooi,” noem Powell verder.
Die Blitzbokke, huidiglik tweede op die HSBC Sewes Wêreldtoernooireeks-ranglys, twee punte na Nieu-Seeland, mik vir hulle derde titel in die Sam Boyd Stadion in Las Vegas.
Hulle is egter saam met Kenya, Wallis en Kanada in Pool A ingedeel. Terug na beserings is Seabelo Senatla asook Stephan Dippenaar.
Die Vodacom Bulls-vleuel, Sampie Mastriet, wat hierdie seisoen reeds in drie IRB-toernooie deelgeneem het, is ook in die groep ingedeel. In totaal is daar slegs drie veranderinge gemaak – Speckman, Dippenaar en Senatla wat Cheslin Kolbe, Kwagga Smith en Steven Hunt vervang.
Nog ‘n Laevelder wat saam met Speckman sal speel, is die jong Werner Kok, wat die jaar reeds drie toetse agter sy naam het. Saam sal dié twee beslis ‘n gedugte span maak.
