Pumas reg vir sewes
Is die Steval Pumas se afrigters Jimmy Stonehouse en MJ Mentz besig om koppe te stamp op die vooraand van 'n nuwe seisoen?

Wees gerus, dit is bloot goeie kompetisie in die Puma-stal met die breiers wat elkeen die naweek ‘n sewesrugby-uitnodigingspan na Middelburg sal neem vir die dorp se jaarlikse toernooi. ‘n Totaal van 20 spanne vanuit 11 klubs van regoor die provinsie gaan deelneem, waaronder Witrivier, Nelspruit en Lydenburg se Rooikatte.
Stonehouse het natuurlik al jare se ervaring en al groot sukses met provinsiale en internasionale sewesspanne behaal, waarop Mentz, wat onlangs nog internasionale sewesrugby gespeel het, homself as ‘n breier wil vestig.
Hy het wel ‘n baie suksesvolle 2013-seisoen as assistentbreier by die Steval Pumas beleef.
Maar hoe kan die Pumas dan twee volwaardige professionele spanne in
‘n klubkompetisie inskryf? Vir beide afrigters is daar natuurlik net een doel
voor oë – speeltyd, en met die aanslag op die komende seisoen, sal die vorm van die spel die spelers net soveel meer voorberei.
Die Pumas sal egter nie aan die punteliga deelneem nie en dit net as voorbereiding gebruik. Hulle eerste volwaardige kragmeting sal op 1 Februarie teen die Toyota Cheetahs in Parys wees.
Volgens Stonehouse sal die twee spanne wel in die rondomtalie-kragmetings deelneem, selfs in die uitspele teen die wenners van die
verskeie rondes, maar dan ook in ‘n vertoonwedstryd teen mekaar speel.
Die Stonehouse-uitnodigingspan is saam met Sasol 1, Witrivier 1 en Ferros 1 ingedeel, terwyl die MJ Metz-uitnodigingspan teen Middelburg 1, Lydenburg rooikatte en Nelspruit 1 sal kompeteer.
“Ons wil die manne almal ‘n speelkans gee. Ons gaan beslis kompeterend wees, maar wil die veral die voorspelers kans gee weens die feit dat ons nie baie oefenwedstryde in die voorseisoen sal speel nie,” noem Mentz vlugtig.
Beide die Nelspruit- en Witrivierklubs sal twee spanne na die toernooi stuur.
Die Stonehouse-span sal eers teen Ferros speel, waarna hulle teen Witrvier en dan Sasol sal meeding. Mentz se span se eerste kragmeting is teen Nelspruit, en daarna die Rooikatte gevolg deur Middelburg.
