Speke sing toe fietsryers saam die oop pad aandurf
Die fietsry-speke het die naweek by die Capital Mpumalanga Road Championships in Badplaas op die oop pad gesing terwyl bene, hande en koppe in sinergie saamgewerk het.

Die wedren het by Forever Resorts plaasgevind en is deur
H&A-toere aangebied. Capital was die hoofborg van die dag.
“Dit was ‘n baie suksesvolle naweek en die ryers het dit vreeslik geniet,” vertel die operasionele bestuurder van Capital, Bolla van Heerden.
Sowat 100 deelnemers, die helfte meer as verlede jaar, het onderskeidelik aan vier afdelings naamlik tyd-, pad-, berg- en rondes deelgeneem.
Ryers van die ouderdom van 10 tot 70 het die klein dorpie besoek. Die padresies het uit vier afstande, 20-, 30-, 60- en 82km bestaan.
Die 82km het ryers behoorlik deur ‘n stewige klim van 1 510 meter en ‘n herstel-afstand van 1 493 meter uitgedaag.
Die tydroete was afstande van 6-, 10-, 15- en 20km en die berg-afdeling 2-,
4- en 4,9km. Deelnemers het 10 minute gehad om te sien wie die meeste rondes van 1,32km kan ry.
Klein Tayla Northe, o/12 het haar kategorie gewen en Willem van den Berg het die beste in die veterane 55 tot 59 jaar gevaar.
Die veteraan, Patrice Gauher het die padroete van 82km in ‘n tyd van 02:35:42 voltooi en kort op sy hakke was Heine Engelbreght, o/23 met 02:36:21. Willem van den Berg was derde met 02:36:23. Die bergroete is deur Richard Swanepoel (elite) met ‘n tyd van 00:16:13 gewen, gevolg deur Stefan van Strijp, junior met 00:16:37 en Jaco Roos, o/23 met 00:16:39.
Die volgende wedren waarna fietsry-liefhebbers kan uitsien, is die TRAC N4 wat 27 tot 30 Maart in Nelspruit plaasvind.
H&A Toere is deur Hendrik en Dinie de Jager in 2010 gestig. “Die doel van die toere is om ryers die geleentheid te gee om meer op die saal uit te kom.
Ons reël ook die Clover Lowveldwedren, die TRAC N4, die junior en o/16-toer en het die 2012 en 2013 Suid-Afrikaanse Road Championships vir
elite, o/23- en junior ryers gereël,” het Hendrik afgesluit.
