Local sportSport

Blitzbokke draf almal kaf in Vegas

Die Suid-Afrikaanse Blitzbokkespan het die naweek bewys hulle behoort aan die bopunt van die IRR-sewesrugby punteleer na hulle die Nieu-Seelanders in die finaal van die HSBC Sewes-wêreldtoernooi met 14-7 vir hulle derde Las Vegas-titel getroef het.

Die vorige titels is in 2011 en 2013 gewen, met Nieu-Seeland wat nog nie daarin kon slaag om op dié veld ‘n finaal te kon wen nie.
Die Blitzbokke het hul veldtog Vrydagoggend afgeskop deur al hulle
poelwedstryde te wen en nie ‘n enkele punt af te staan nie. Slegs Kenia kon daarin slaag om ‘n drie teen die Suid-Afrikaners in die uitspeelrondes aan te teken.
Rosko Specman, Nelspruit se eie Steval Puma wat sy Bokdebuut teen
Wallis gemaak het, en Werner Kok het beide ‘n groot aandeel in die span se sukses gehad.

Kok het dan natuurlik in die finaal die wendrie gaan druk na die
Bokke teen rustyd sewe elk gelykgetrek het. Die Silwervarings het die wedstryd aanvanklik gedomineer, maar dit was die Blitzbokke wat die finale sê gehad het, net soos in 2013.
“My hart wou behoorlik uit my bors spring toe ek op die veld draf in die eerste wedstryd. Maak nie saak hoeveel keer jy saam met die
ouens oefen nie, daai eerste keer met die Boktrui oor jou kop is eenvoudig net onbeskryflik,” verduidelik ‘n oorstelpte Specman uit Las Vegas.
Die Blitzbokke het in die kwarteindfinaal met Argentinië (36-0) en toe in die semifinale met Samoa (14-0) afgereken.
Met hierdie oorwinning in Vegas – ronde vier van die reeks – is Suid-Afrika aan die bopunt van die toernooiranglys met 78 punte gevolg deur Nieu-Seeland (77), Fiji (55), Engeland (53) en Samoa (47).
Die 16 spanne sal nou vir die volgende toernooi in Wellington op 7 en
8 Februarie in die Westpac Stadion voorberei. In groep A is Suid-Afrika saam met Engeland, Wallis en Portugal ingedeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button