SA Jagters is slaggereed om die sneller te trek
Nadat daar verlede jaar 'n definitiewe oplewing en bywoning van aktiwiteite was, kan Lydenburg se skuts 'n beter jaar te wagte wees, meen Johan Grimbeek, skietkoördineerder van die SA Jagters se Bosbok-tak.

Lede wat almal van Burgersfort, Steelpoort, Ohrigstad en Lydenburg diens doen en hulp met die lisensiëring van jagwapens verleen, skop hierdie jaar met die eerste sosiale skietdag af wat eerskomende Saterdag by die Lydenburg-skietbaan plaasvind.
Volgens Grimbeek sal die vlakvark- en blouwildebees-tabelle met gewere geskiet word, terwyl die rooiboktabel met die boog geskiet gaan word.
Inskrywingsfooi beloop R20 vir lede en nie-lede betaal R50 per inskrywing vir die geweerafdeling. Die boogskietafdeling beloop R10 per lid en R20 vir nie-lede.
“Ons het ten doel om die hele gesin by ons aktiwiteite te betrek,
wat onder andere bewaring, opleiding, skietdae en trofeemeeting insluit,” sê Grimbeek en voeg by dat daar ook verskeie kampe aangebied gaan word waar juniors die geleentheid gaan kry om meer oor die natuur, volhoubare benutting, jag en skiet te leer.
Hy sê die feit dat Lydenburg nou weer ‘n wapenwinkel, Hunters
Boma het, baie gaan help met die aankoop van wapens, ammunisie en toebehore wat tot reuse-voordeel van die buitelugentoesiaste sal wees, wat skuts, jagters en kampeerders insluit.
Vir verdere navrae skakel Johan by 082-378-0698 of JB Willers by 082-820-1748.
