Jong kampioen is ‘n uitblinker van formaat
Om op negejarige ouderdom 'n karatekampioen, kranige rugbyspeler, krieketspeler, swemmer en nog 'n behendige dromspeler ook te wees, wil gedoen word.

Hugo Smit is ‘n gr. 3-leerling van Laerskool Bergland wat uitblink in alles wat hy doen, maar sy karate lê hom naaste aan die hart. Hugo is al vir twee jaar deel van Tranquility Health and Fitness Centre onder Christo van Wyk se leiding.
“Hugo is ‘n uitsonderlike student wat toegewyd is en hy het ‘n groot hart,” sê Van Wyk. Hugo maak nie net vir Tranquility trots nie, maar homself ook. Hy is al twee keer as spankaptein vir sy uitstekende leierskapsvermoë gekies en hy het in 2012, 2013 en hierdie jaar aan die Combat Tang Soo Do Suid-Afrikaanse (Tafisa) kampioenskappe deelgeneem. Een van Hugo se grootste prestasies, was toe hy vir die Combat Tang Soo Do Ontwikkelingspan gekies is en verlede jaar in Holland aan die kampioenskappe gaan deelneem het. Daar het hy ook ‘n silwermedalje verower.
“Dit was baie lekker, maar baie koud,” het Hugo vertel. Hy het aan die Tafisa-uitdunne deelgeneem hierdie jaar en was gekies om Suid-Afrika by die World Martial Art Games wat later vanjaar in Kanada gehou gaan word, te verteenwoordig. “Ons is ongelooflik trots op hom, die hele familie ondersteun hom en gee hom raad wanneer dit nodig is,” vertel ‘n trotse ma, Elmarie Smit.
Hugo se pa, Marius reis gewoonlik saam met hom wanneer hy aan kampioenskappe deelneem. “Ek voel geëerd om met só ‘n talentvolle student te werk, hy gaan nie net in skool en sport suskes behaal nie, maar in sy lewe,” voeg Van Wyk by.
