Die Impalas kom leë hande trug huis toe
Volgens spankaptein van die Impalas, Cornè Dippenaar was die aanloop na die finale fenomenaal. Ondersteuners het vooraf by die oefeninge opgedaag en hul goeie wense aan die span oorgedra.
Volgens spankaptein van die Impalas, Cornè Dippenaar was die aanloop na die finale fenomenaal. Ondersteuners het vooraf by die oefeninge opgedaag en hul goeie wense aan die span oorgedra.
“Chris Coetzee van Bellafield het opgedaag en R2 000 vir uitgawes vir die finale in Belfast geskenk, en die gees vooraf was tasbaar.”
“Die atmosfeer en spangees op pad na Belfast was iets besonders. Ondersteuners het vanaf Pretoria, Phalaborwa, Groblersdal, Naboomspruit, Middelburg, Mbombela, Malalane en natuurlik Komatipoort vir die wedstryd deurgery!” het Dippernaar gesê.
Volgens hom was dit die hardste wedstyd van die seisoen. Dit was fisies veeleisend, die manne het hul lywe op die spel gesit en te danke aan die ervare skeidsregter, Michiel Botes se goeie hantering van die spel, was dit ook ‘n baie skoon wedstryd.
In die eerste helfte is daar wipplank gery, maar losskakel Tiaan Nel het die Impalas in die spel gehou met briljante skopwerk. Net voor halftyd het hy ook ‘n mooi breek gemaak en Driekus Burger is pale toe. Nel het egter ‘n besering opgedoen tydens dié lopie en Burger moes instaan. Die halftydtelling was 15-14 in Belfast se guns.
Tydens die tweede helfte het hulle die oorhand begin kry, maar Nel was deurentyd daar met sy skopskoen tot en met die laaste vyf minute.
Die telling was kort voor die einde 25-20 in die gashere se guns, maar met twee strafskoppe in die laaste paar minute teen hulle, het dit ‘n oorwinning buite die Impalas se bereik geplaas.
Komati het egter verbete geveg totdat die eindfluitjie geblaas het. Die eindtelling was 31-20 in Belfast se guns. Punte is aangeteken deur Burger (5) en Nel (15) wat vyf strafskoppe deurgesit het pale toe. Die span is trots en het met koppe omhoog die veld verlaat.
“Ons is trots om in die tweede liga te kan wees,” het Dippenaar gesê. “Ons wil graag almal bedank wat dit vir ons moontlik gemaak het, vir al die ondersteuners deur die jaar wat ons gedra het tot waar ons is. Ons sou dit nooit sonder julle kon doen nie. Ons sê dankie aan JSL Transport vir die vervoer, en wat ons veilig daar en terug gekry het. Baie dankie aan Elangeni-vakansieoord vir die verblyf en ongelooflike gasvryheid. Ons gaan beslis weer kom kuier. Wat ‘n fantastiese seisoen vir ons. Ons span het ‘n baie hegte band gevorm, en ons gaan daarop bou vir volgende jaar. Ons gaan beslis sterker en beter terugkom.”
Volgens die kaptein van Belfast, Ryno Kleinhans, was dit ook sy span se hardste wedstryd van die seisoen en het hy sy dank oorgedra aan Komatipoort vir ‘n lekker spel. Belfast was onoorwonne vanjaar.
