Ons eie konings in Witirivier
Witrivier se tweede span het onlangs teen Barberton in die halfeindstryd van die Mpumalanga-klubrugby-liga op eersgenoemde se tuisveld te staan gekom.

Na die tuisspan se oorwinning hier, het hulle deurgedring na die finaal wat Donderdag gespeel is, met Nelspruit Rugbyklub as teëstanders.
Die besoekers, Nelspruit, het eerste bloed geruik met ‘n suksesvolle strafskop. Kort daarna het hulle op een van die Witrivier se foute gekapitaliseer, met ‘n drie onder die pale en ‘n suksesvolle doelskop. Anders as in die halfeindronde, het hulle vir die hele eerste helfte ‘n voortou gehad van 10-0. Albei spanne het gespeel asof hulle lewens op die spel was, maar selfs na talle belowende aanvalle, was daar geen deurkomkans vir Witrivier in die eerste helfte nie.
Na rustyd het die tuisspan met ‘n heel ander wedstrydplan op die veld gedraf. Dit het duidelik geword dat die besoekers al hoe meer begin klei trap nader aan die einde toe, en selfs na talle pogings, het Witrivier se verdediging nie pad gegee nie. Die tuisspan, wat verlede jaar heel laaste op die punteleer geëindig het, se harde werk het begin vrugte afwerp.
Hulle het met ‘n wilde teenaanval begin, en met die aanhoudende druk en gebiedsvoordeel was daar geen keer aan die tuisspan nie.
Hul vasberadenheid het Conrad Botha vir hulle eerste drie oor die doellyn gestuur. Dit is presies wat hulle nodig gehad het.
Alhoewel hulle nog steeds ‘n agterstand van 10-5 gehad het, het Collin van Staden dadelik na die afskop drie punte aangeteken.
Drie minute voor die einde, word daar weer ‘n strafskop reg voor die pale deur Nelspruit afgestaan. Van Staden maak toe weer sy span trots en stuur die strafskop deur die pale.
Witrivier het die liga onoorwonne afgesluit, en hulle harde werk deur die hele seisoen as die beste tweede span vir 2014 met ‘n telling van 11-10 bewys.
Dit sal vir Nelspruit loon om in die toekoms ‘n wegwedstryd met die grootste omsigtigheid te benader en ook vir die volle tydperk van die wedstryd, hul fokus te behou.
Die wedstryd, anders as die halfeindronde waar Witrivier vir Barberton met 27 teenoor 10 geklop het, kan definitief as ‘n skouspel beskryf word. ‘n Moeilike keuse sê Bennie Pringle, afrigter van Witrivier se eerste span, maar die man van die seisoen wat deurgaans sy beste gegee het op die veld was Johan Smit.
