Ryers stuit nie vir steil bulte
Die derde Paradors MTB Challenge het op 2 Augustus by Paradors Wildsplaas plaasgevind.

Dit het vir ‘n uitdagende wedren gesorg wat tot die mees ervare deelnemers ‘n paar stywe spiere die volgende dag sou gee.
Nohan van Tonder het weereens gewys dat hy nie vir steil bulte of klippe bang is nie, toe hy vir die tweede opeenvolgende jaar die 50km-wedren gewen het.
Hierdie jaar het hy wel groot kompetisie gehad in die vorm van ‘n Springbokfietsryer, Hannelé Steyn. Steyn, wat die enigste vrou is wat al 10 Cape Epic-marathons voltooi het en talle ander toernooie gewen het, het met haar deelname ekstra sprankel aan die dag gebring.
“‘n Goeie vriend het my genooi om deel te neem en toe help ek sommer om die pryse te borg. Ek is baie bevoorreg om aan hierdie wedren deel te kon neem. Die Laeveld is so ‘n mooi plek vir bergfietsry, heeltemal anders as die Kaap waar ek woon,” het Steyn gesê.
Sy het gereeld ‘n glimlag op haar gesig, maar het wel op haar toetsrit effens huiwerig geraak toe sy ‘n meneer van ‘n bult uitgery het.
“Ek het respek vir enige wedren. Ek is opgewonde, maar nogal bang vir al hierdie groot heuwels.” Sy het op die einde gesamentlik derde gekom in die 50km-kategorie, maar was die eerste vrou oor die wenstreep in die langste wedren van die dag.
Die uitdaging is in verskillende afstandskategorieë, naamlik die 50-, 35- en 12km-wedren verdeel.
Liam de Klerk was eerste oor die wenstreep in die 35km, met Reinhardt Viljoen wat dieselfde in die 12km
vermag het.
Tussen wild en die warm weer het dié brawe deelnemers elke opdraande as ‘n mylpaal gesien, veral as die eerste bult aan die begin reeds ‘n mens na jou asem laat snak, en ‘n slukkie water vereis het.
Sommiges het egter besluit om naderhand eerder hul fietse teen die uitdagende oppervlaktes te stoot.
“Vanaand gaan ek spiere voel wat ek nie eens geweet het ek het nie,” het een van die fietsryers geskerts.
Die wedren het ook ‘n belangrike liefdadigheids-aspek gehad, met Huis Betlehem en Nelspruit Hospice wat van die begunstigdes was.
Albei die organisasies het ook die kans benut om hul diens te bemark met stalletjies wat hul spesifiek vir die dag opgerig het. Volgens die organiseerder, Johan Augustyn was die wedren ‘n sukses met geen ernstige beserings nie.
“Ek wil vir Anton Strydom en die res van die nooddiensspan bedank vir hul hoogstaande werk, asook vir ons borge TRAC en SPAR.
Sonder die borge en uitleen van die wildsplaas sou hierdie wedren nie moontlik gewees het nie.”
