Karatekas bereik nuwe hoogtes in hul sport
Drie karatekas van die bekende leermeester, sensei Roelf Smit het onlangs by 'n graderingsgeleentheid goed gevaar.

Jacques Kalis (39) het sy derde, san dan, verower. Hy beoefen sedert 1988 die sport en het sy eerste, sho dan, in 1993 gekry. “My tweede, dan, het ek in 1996 gekry. Ek moes drie jaar daarna reeds vir die volgende een gegaan het, maar het nooit daarby uitgekom nie.” Kalis moes ook ‘n verhandeling skryf.
“Ek het ‘n kombinasie van die hande en voete gedoen waar dit amper gelyktydig gebruik word.” Hy sal vier jaar moet wag om vir sy yan dan (vierde) te kwalifiseer.
Denier Vos, óók 39 jaar, spog met sy eerste (sho) dan. Hy het reeds in 2002 by Smit aangesluit en vertel dat hy sy meester se styl bewonder. “Hy handhaaf goeie dissipline op die mat en sy oefeninge is van hoë standaard om die regte tegnieke prakties toe te pas.” Vos se drie dogtertjies het ook onlangs saam met hul pa begin oefen.
‘n Karateka wat van ‘n jong ouderdom graag biblioteek toe gegaan het om karate-boeke te lees, Marthinus Boshoff, beoefen die sport nou al vir 14 jaar. “Ek moes lankal gegradeer het, maar het karate in 1996 gelos en eers weer vanjaar begin. Ek gaan eersdaag Pretoria toe om my eerste dan te kry en ek is baie gemotiveerd!”
Smit is baie trots op sy manne. “Hulle is betroubaar en gemotiveerd. Sou ek nie ‘n oefening kan bywoon nie, sal hulle sonder my aangaan.”
