Viervoetiges baat by aksie op gholfbaan
Pro-Life Pet Rescue beweeg al hoe nader aan die verwesenliking van sy eie veeartsenypraktyk. Die organisasie was verlede week die begunstigdes van Eco-tabs se gholfdag. Volgens die organiseerders het sowat 88 deelnemers, oftewel 22 spanne, Vrydag by die Nelspruit Buitebaan hul deel vir viervoetiges kom doen. Volgens Karin Erasmus het die vendusie na afloop van …

Pro-Life Pet Rescue beweeg al hoe nader aan die verwesenliking van sy eie veeartsenypraktyk. Die organisasie was verlede week die begunstigdes van Eco-tabs se gholfdag.
Volgens die organiseerders het sowat 88 deelnemers, oftewel 22 spanne, Vrydag by die Nelspruit Buitebaan hul deel vir viervoetiges kom doen. Volgens Karin Erasmus het die vendusie na afloop van die spel ook haar verwagtinge oortref, alhoewel die totaal van die opbrengste teen druktyd nog nie bekend was nie.
Erasmus beplan om ‘n veeartsenypraktyk te open omdat Pro-Life se veearts-rekening baie hoog is. “Die praktyk sal diere steriliseer en algemene siektes behandel.” Dit is juis dié dinge waaraan hulle die meeste geld bestee en volgens Erasmus sal hulle teen ‘n fraksie van die prys die dienste self kan verskaf.
Dit sal uiteraard wel aanvanklik beperk wees tot klein operasies. Ernstige beserings soos beenbreuke sal steeds deur groter praktyke uitgevoer moet word.
Dit sal Pro-Life ook in staat stel om eienaars te help wat nie kan bekostig om hul honde en katte te steriliseer nie.
“Dieremishandeling kom voor as daar te veel diere is om te versorg,” sê Erasmus. As meer honde en katte dus verhoed word om aan te teel, sal die aantal diere in nood ook verminder.
Alle fondse wat met die gholfdag ingesamel is, sal gebruik word om die praktyk te bou en toe te rus.
Sien meer foto’s hier.
