Dié uitdrukking is so vanpas op Nelspruit Rugbyklub se speler (NRK), Neil Manley wat eersdaags rugby in Portugal gaan speel. “Dié liefde wat ek vir die sport het, het nie uitgedraai soos wat ek gehoop het nie.
Dit is ál wat ek wou en steeds wil doen. Dit is dalk die laaste kans wat ek het om my droom uit te leef.”
Die geleentheid het toevallig in die 22-jarige se skoot geval. ‘n Kontak van NRK se afrigter, Gunther Swart, het hom laat weet dat die rugbyklub, Agronomia in Portugal, spelers vir hul seisoen benodig. Manley het sy curriculum vitae gestuur en die klub het hom reeds die volgende dag laat weet dat hulle belangstel.
“Ek vertrek op 28 Augustus en my kontrak strek tot einde Mei, maar ek beplan nie om daarna terug te kom nie. Ek wil vir die volgende 10 jaar van my lewe nét rugby speel.”
Die veelsydige agterspeler het na gr. 12 ‘n rugbybeurs by die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus verwerf en het óók een keer vir die Luiperds uitgedraf en was ook op die plaasvervangersbank. Sy kontrak is nie daarna hernu nie.
In 2012 het hy by Barberton Rugbyklub aangesluit, maar sedert 2013 draf hy vir NRK uit.
Sy oupa het sy liefde vir rugby gekweek deur vir hom as jong kannetjie R15 vir elke drie wat hy gedruk het, te gee.
“Ek het goeie rugby op laerskool gespeel. Op hoërskool het ek tydens die o/19 Provinsiale Pukweek vir die Pumas gespeel en was ook deel van die Cravenweek se o/18 B-span gewees. Ek het óók vir die Pumas se o/19-Curriebekerspan uitgedraf. Ek het op losskakel begin, en oor die paar jaar ander posisies soos senter en heelagter gespeel.”
Agronomia se truie is spierwit met grasgroenstrepe en die webblad is net in Portugees. Die feit dat Manley glad nie dié taal kan praat nie, pla hom nie veel nie aangesien sy spanmaats almal Engels kan praat.
“Ek het vir my ‘n kompakskyf gekoop om Portugees te leer praat. Ek ken reeds so een of twee kleure en uitdrukkings.”
Die klub is in Lisboa geleë waar hulle aan die Plano Annual Atividades-liga deelneem (soortgelyk aan Suid-Afrika se Currie-bekerreeks).
Manley sien uit na die smaaklike hoender en geurige vis wat glo van die boonste rakke is, vakansies na Engeland en Ierland en die klein kusdorpies in Portugal.
