Koue keer nie die vis om fluks te byt nie
Uit die 23 spanne wat vir die sewende been van die Lowveld Bass Trail by die Machado Bootklub ingeskryf het, is 103 swartbaars uit die water getrek.

Die grootste vis van die dag – 1,470kg – is deur Willem van Dyk van span Visarend ingekatrol.
Vygeboomdam naby Badplaas se waters het gewemel van die vis en elke boot het daarin geslaag om die gemiddelde kwota van vyf visse in te weeg. “Ons het lanklaas sulke koue weer in die winter op die water beleef, maar ons kon voel dat die temperatuur stadig maar seker warmer word. Die jong mannetjie-visse is besig om in die vlakker water in te beweeg vir die broeiseisoen wat om die draai is en het fluks gebyt,” vertel een van die hengelaars, Charl Carey. Hy het bygevoeg dat deelnemers egter nie daarin kon slaag om ‘n monsterwyfie aan die lyn te kry nie.
Die meeste visse is met flukes en spanky’s in kleure swart en waartlemoenrooi naby gras en in die riete tussen een en drie meter gevang. Die gemiddelde gewig was 0,548kg per vis.
Uitslae
• Eerste – Go Fa, vyf visse – 4,355kg
(11 355 punte) – R5 000
• Tweede – Ambassadors, vyf visse – 3,605kg (10 605 punte) – R3 000
• Derde – Angling & Outdoor World, vyf visse – 3,505kg (10 505 punte) – R2 000 geborg deur Union Motors, Mbombela
• Vierde – Thermocline, vyf visse – 3,200kg (10 200 punte) – geskenkbeyws van R500 by Zoom-kunsaas ter waarde van R350 geborg deur Angling & Outdoor World en ‘n Jock Pub & Grill-eetbewys van R150
• Vyfde – Loose Goose, vyf visse – 3,150kg (10 150 punte) – R400 geskenkbewys van Wittus Angling en ‘n viskas geborg deur Midas.
• Span Visarend wen die potprys van R1 150 vir die grootste baars van 1,470kg
• Span Go Fa wen ‘n viskas geborg deur Midas vir die tweede grootste baars van 1,310kg.
Die volgende been vind Saterdag 13 September by Kwenadam naby Lydenburg plaas. Die dag begin om 06:00. Inskrywingsgeld beloop R400 per span. Alle nuwe deelnemers asook die publiek is welkom om die dag by te woon. Union Motors Lowveld gaan voertuie uitstal wat ook toetsbestuur kan word. Navrae: Charl Carey by
082-388-0907.
