Gholfgenie kry Protea-baadjie
Die spoggerige groen Protea-baadjie pas haar soos 'n handskoen.

Monja Richards het verlede week die spogitem in Johannesburg gaan afhaal wat sy 28 Augustus moet aantrek wanneer sy saam met die Suid-Afrikaanse vrouegholfspan op die vliegtuig klim.
Richards neem van 3 tot 6 September saam met Michaela Fletcher en Cara Gorlei aan die Espirito Santo-trofee by die Wêreld Amateur-kampioenskappe in Tokyo, Japan deel.
Sy het onlangs van die laaste oefenkamp wat in Stellenbosch, Kaapstad gehou was, teruggekeer. “Ons as span het baie in die drie dae gegroei. Ons is beslis een van die gunstelinge by die kompetisie – nie een van die spelers het al aan ‘n wêreldtoernooi deelgeneem nie, maar almal se gholf is baie konstant op die oomblik.”
Altesaam 150 spelers vanuit 50 lande neem op die Iriyama- en Oshitate buitebaan deel.
