Kampioenpanner van NHS is goud werd
In die junior kategorie (12 tot 16 jaar) het sy haar teenstanders met 'n kombinasie van selfvertroue en harde werk geklop - iets wat sy al van kindsbeen af geleer het.
Suid-Afrika spog met ‘n nuwe wêreldkampioen in goudpan, en sy is maar net 14 jaar oud.
Jané Vermaak, ‘n gr. 8-leerling van Hoërskool Nelspruit (NHS), het met ‘n massiewe stuk goud om haar nek huiswaarts gekeer nadat sy agt stukkies in een minuut en 15 sekondes by die Wêreld Goudpankampioenskappe in Kopparberg, Swede, gepan het.
“Ek was baie gefokus daarop om my beste te doen. Gelukkig het ek ‘n goeie finale ronde gehad nadat ek in die oefenrondes gesukkel het.”
In die junior kategorie (12 tot 16 jaar) het sy haar teenstanders met ‘n kombinasie van selfvertroue en harde werk geklop – iets wat sy al van kindsbeen af geleer het.
Jané se paadjie tot wêreldkampioen het van kleins af begin toe sy as driejarige saam met haar familie in Pilgrim’s Rest die sport beoefen het. Die episentra van goudpan in Suid-Afrika het aan haar die platform verskaf, waartydens sy later haar tegniek en talent by die bekende Mac Mac-goudpanklub bemeester het.
“Dit was my eerste verskyning by die wêreldkampioenskappe en ek is in die wolke oor my oorwinning.” Die gewigtige stuk goud wat Jané in Swede verwerf het, is vir haar ma Sonja, ‘n geweldige trotse oomblik gewees, veral omdat sy dit kon aanskou. Sonja het self goud huis toe gebring in die vyfmanspan-kategorie.
“Ek was saam met Jané oorsee en hierdie oorwinning is iets wat baie spesiaal vir ons albei was. Sy was in Finland in 2012 waar sy tweede in die Europese Goudpankampioenskappe gekom het.”
Jané verkies om aan die individuele kategorieë deel te neem aangesien net een persoon vir sy eie prestasies verantwoordelik is. “Die vorige dae het dit heeltyd gereën, maar elke keer wanneer ons gepan het, het die son geskyn.”
Jané was een van 24 Suid-Afrikaners by die kampioenskappe in Kopparberg, met die hoof van die sport, kuns en kultuur departement, Sindi Xulu, wat dit ook bygewoon het.
Die goudpan-broers, Henko en Albie de Nysschen het ook NHS se naam hooggehou en sesde en 11de onderskeidelik in die kategorie geëindig.
Volgende jaar se kampioenskappe vind in Spanje in die dorpie Navelgas vanaf 3 tot 9 Augustus plaas, waar Jané haar titel sal verdedig.
Maar vir nou is die fokus eers op skoolwerk na ‘n goue paar dae vir een van die Laeveld se jongste uitblinkers.
