Local sportSport

Pumas wen die groot stryd vir Curriebeker

Die Curriebeker-wedstryd wat Vrydagaand by Mbombela Stadium plaasgevind het, was tekenend van 'n groot stryd tussen die twee stutte van die Steval Pumas en die GWK Griekwas - Vincent Koch en Steph Roberts.

Die Pumas het die Griekwas met 33-15 getroef nadat die span van Kimberley die rustyd met 12-11 ingegaan het. 

Die vaskopstut van die tuisspan is as speler van die wedstryd aangewys nadat hy naam in die skrums gemaak het. Die Pienkes lê tans vierde op die punteleer met nege punte te danke aan kaptein Corné Steenkamp, wat nadat die sirene gelui het, ‘n bonuspuntdrie gedruk het.

Die twee spanne het mekaar in 2013 laas ontmoet toe die Pumas met 33-15 gewen het en na die premierdivisie deurgedring het. 

Die Curriebeker is onlangs na agt spanne vergroot. 

Die besoekers is met die eerste skop gestraf nadat hulle ‘n man in die lug gespeel het en die Pumas se Justin van Staden het met ‘n strafskop geslaag. 

Tot en met die derde ronde van die kompetisie, het Van Staden al 23 punte aangeteken. 

Na 22 minute het die Pumas 47 teenoor die Griekwas se nege duikslae uitgeoefen. Kort voor rustyd het die Laevelders na flink balhantering en goeie teenaanval met ‘n drie deur Jerome Pretorius afgerond. 

Griekwas het die besit oorheers, maar hul onvermoë om geleenthede in punte te omskep, was die tuisspan se voorland. Hul lynstane was flou en hul skrums middelmatig.

Die blondekop van Namibië, Renaldo Bothma het weereens gespeel vir al wat hy werd is en met brutokrag in die 60ste minuut oor die lyn vir sy span se derde drie geduik – dit was sy tweede drie van die jaar. 

Sedert 1996 het die twee spanne 18 keer teen mekaar gespeel – die Pumas het net ses van die wedstryde gewen en met verlede jaar se vertoning wys hulle keer op keer waarom hulle in dié liga behoort. 

Die Pumas speel Vrydagaand teen die Cell C Sharks op eersgenoemde se tuisvelde. Kaartjies kan by die stadion of by Computicket aangekoop word. 

Sien jou in jou pienkdrag!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button