Plaaslike atlete maak yster-debuut
Die 5150 Ironman wat verlede naweek in Bela Bela aangebied is behels 1,5km swem, 40km fietsry en 10km hardloop.
Vyf driekamp-atlete van Mbombela het die afgelope naweek by die Ironman 5150 in Limpopo hul ysterman- en -vrou debuut gemaak.
Deelnemer Gerrit Engelbrecht, wat met ‘n tyd van 2.50:42 algeheel 36ste geëindig het, het gesê dit was wonderlik om daaraan deel te neem en dit was uitermate goed georganiseer.
“Dis definitief ‘n moet vir iemand wat met driekamp wil begin. Dit was ook ‘n lieflike dag – al was dit winderig op die fietsroete.”
Die 5150 Bela Bela is ‘n Bosveld-driekamp wat by die Forever Resorts Warmbad gehou word. Dit behels dat atlete 1,5km in die ski-dam by die toevlug swem, 40km op die heuwelagtige pad rondom dit fietsry, en 10km hardloop.
Die ander deelnemers van Mbombela was Chris Rodgers (3.07:59) wat algeheel 88ste was, Bernard Wheeler (3.14:25) was algeheel 103rde, Janine Wheeler (4.06:51) algeheel 57ste en Celine Cruse (3.10:22) wat algeheel 96ste was.
