Plaaslike ryer kies die nasionale span
Na 25 jaar in die fietsrysport, is 'n plaaslike gesig, Bosseau Boshoff (40) as kommissarisdirekteur: padfietse van Suid-Afrika aangewys.

Hy het die span wat Suid-Afrika by die “Union Cycliste Internationale” padfiets- wêreldkampioenskappe wat van 21 tot 28 September in Ponferrada, Spanje gaan verteenwoordig, aangewys en beskou dit as sy eerste van vele uitdagings. “My hoofdoel is om soveel as moontlik ryers te kry wat vir die volgende Olimpiese Spele wat in Rio 2016 plaasvind, te laat kwalifiseer.
Na my termyn wil ek graag sien dat dié sport eerste in Afrika is en in die top-10 van die wêreld.” ‘n Plaaslike ryer in die fietsrygemeenskap, Willie Smit is een van 17 wat eersdaags Spanje toe vertrek. Smit neem in die o/23-kategorie deel. “Die rede waarom Willie deel van die groep is, is omdat sy fietsry op die oomblik baie konsekwent is.
Hy het verlede jaar vir ‘n Europese span gery en daar het hy baie internasionale ervaring opgedoen. Willie gaan vrye teuels hê om die kampioenskappe sy eie te maak en word as ondersteuning vir een van die ryers, Louis Meintjies gesien.”
Smit sien baie uit na die kampioenskappe aangesien dié soort wedren baie soortgelyk aan sy oorsese ondervinding is. “Dit is ‘n groot voorreg om gekies te word en hierdie is ‘n geleentheid om moontlik groot kontrakte vir volgende jaar los te ry,” sê Smit.
Boshoff wil met ‘n nuwe en innoverende perspektief sy rol vervul deur interaktief met ryers te wees en om ook deursigtig te wees. “Ek wil kwessies op die regte manier beheer en hanteer.”
Sy speke sing al sedert hy 15 jaar oud is. Hy is ook die afrigter en stigter van die suksesvolle Infinita fietsry-akademie waar 30 van die Laeveld se topryers oefen. Hy wil graag ook vroue-fietsry op die kaart sit aangesien die Laeveld oor uiters opwindende en opkomende ryers beskik.
‘n Splinternuwe veldfietsrenbaan word eersdaags by Mbombela Stadion gebou. Boshoff voel dat dit die ontwikkeling van fiestry in die omgewing gaan verbeter. Nóg ‘n gebeurtenis om na uit te sien, is die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe wat volgende jaar Februarie in Mbombela plaasvind.
