Draaiboulers gee deurslag met ‘n uitstekende vertoning
Dit was tekenend van Penryn se kolwers wat een vir een kleedkamer toe gestuur is en van die druk wat die speler van die wedstryd, Divan Maritz met sy uitstaande syfers van 5/12 toegepas het.
Laerskool Nelspruit se o/12-krieketspan het Donderdag op hul tuisveld vir Penryn College ‘n les geleer deur met 61 lopies met hulle af te reken.
Nellies se draaibalboulers se geduld en vertroue was in skrille kontras met Penryn College se wispelturige en soms ooraggressiewe besluitneming.
Dit was tekenend van Penryn se kolwers wat een vir een kleedkamer toe gestuur is en van die druk wat die speler van die wedstryd, Divan Maritz met sy uitstaande syfers van 5/12 toegepas het.
Maritz was ook Nellies se beste kolwer met 40 lopies. Die tuisspan het eerste gekolf en 131 aangeteken, maar het op ‘n stadium gelyk of hul nie die driesyfergetal sou maak nie. Penryn se venynige swaaibouler, Jayson Taylor het in die eerste paar beurte amok gemaak en Nellies tot ‘n paniekerige 13/4 beperk.
Dit was toe dat die kalmerende invloed van Maritz en Waldo Stolz vir Nellies ‘n belangrike vennootskap gesluit het. Toe Stolz vir 13 uitgeboender is, het Maritz steeds sy staal gewys deur die lopies te laat vloei. Hierdie lopietempo is egter gou gestuit toe Nick Popard met sy linkerarm-draaiballe ‘n paar vinnige paaltjies, insluitend die van Maritz, met ‘n pragbal laat kantel het.
Nico Liversage en Nico de Lange het gesorg vir ‘n paar belangrike lopies met dié naamgenote wat die telkaart tot by ‘n formidabele maar bereikbare 131 opgestoot het. Penryn se kolfwerk het ook sukkelend begin met vroeë paaltjies wat geval het. Hulle het stelselmatig tot by 50/5 gesteier met Jared Small wat hier en daar ‘n paar voortreflike houe gespeel het. Penryn het hulself ook geen guns bewys deur onnodige uithardloopkanse en ‘n telbord wat op 59 stilgestaan het nie. Skielik was dit 59/8 na drie opeenvolgende paaltjies wat in ‘n oogwink getuimel het.
Afgesien van Penryn se kolfwerk was hul boulwerk van goeie gehalte en met genoeg dissipline kan hul groot hoogtes bereik.
Nellies is wel goed op dreef om ‘n reputasie as ‘n krieketreus op te bou met talle suksesvolle oorwinnings wat vir hierdie spannetjie wink.
