Judokas sê mekaar die stryd aan in ope
Hierdie was die eerste kompetisie waar die vegters van die nuwe Witrivier-klub die meer ervare judokas aangevat het.

Die klank van harde slae teen die matte het Saterdag deur die Oewersigsaal weergalm.
Talle judokas van so ver as Gauteng het hulle krag tydens vanjaar se Judo Ope-kampioenskap by die twee jaar oue Nelspruit Judo-klub ten toon gestel.
Die opwindende aksie met kragtige gooie en aanklampings, was heeltemal in stryd met die woord judo, wat “saggeaardheid” beteken. Die dag is goed deur ouers en deelnemers ondersteun en afrigters en paramedici het verseker dat alles glad verloop.
Hierdie was die eerste kompetisie waar die vegters van die nuwe Witrivier-klub die meer ervare judokas aangevat het. Volgens Anthony Theron, afrigter van Witrivier se deelnemers, het die nuwelinge dit baie geniet, goed gevaar en ook baie geleer.
Nege van die Nelspruit-klub se judokas het deelgeneem en hulle het almal goud, silwer of brons verwerf. Die Laeveld verwelkom binnekort ook ‘n nuwe klub in Sabie, wat beloof om die sport ‘n groot hupstoot te gee.
Volgens Thinus van Tonder, afrigter van Nelspruit Judo-klub, was die kampioenskap ‘n reusesukses. “Die besoekers van Gauteng het die toernooi asook die heerlike Laeveld-hitte baie geniet, en sien al klaar uit na volgende jaar se aksie.”
