Pumas vaar beter as wat meeste voorspel het
Haaivin-sop word in sommige lande as 'n spesialiteitsdis gesien, en na Vrydagaand se sprankel-oorwinning van die Steval Pumas sal dit nie 'n verrassing wees as dit eersdaags op sommige restaurante in Mbombela se spyskaarte is nie.

Na 10 jaar het die tuisspan dit uiteindelik reggekry om die Cell C Sharks te klop en ‘n bonuspunt-sege van 32-22 te behaal. Die Pienkes het dit ook laas in 2004 reggekry (30-13) en hul eerste wen teen die besoekers was in 2003 (35-27) – albei keer in Witbank.
Twee van die spelers het elk hul eerste Curriebeker-drie gedruk. Die losskakel, Justin van Staden het in die 37ste minuut tydens ‘n stukkie sprankelspel ‘n drie by die linkerste hoekvlag gedruk, en Giant Mtyanda in die 70ste. Dié 1,83m-losskakel het voor hy Mbombela sy tuiste gemaak het, vir die SWD Arende, Blou Bulle en OP Kings uitgedraf. Hy het tot dusver 33 punte in dié reeks aangeteken.
Mtyanda en Van Staden is voormalige spanmaats – die 1,99m-bielie van ‘n slot het ook voorheen vir die Arende asook die Leeus gespeel.
Die kaptein van die wenspan, Corné Steenkamp, het groot lof vir hulle gehad. “Ons was vir 60 minute in beheer en het net vir 20 minute effens momentum verloor. Die twee skrums én drie lynstane het ons in kritieke tye verloor. Ons balretensie was baie beter as in die vorige week se wedstryd teen die Griekwas.”
Wat interessant is na die naweek se vier westryde, is dat die kat-spanne in die top vyf van die punteleer lê – die Leeus is tweede met 15 punte, die Pumas derde met 14 punte en die Cheetahs is in die vierde plek met 12.
Volgens die skeidsregter, Ben Crouse is hy baie tevrede oor beide die Pumas en die Sharks se dissipline, maar hy meen egter dat die skrums ‘n groot uitdaging was as gevolg van die gebrek aan stabiliteit. “Die spelers het heelwat kanse gevat. Daar is in die 80 minute in totaal slegs 15 strafskoppe toegestaan.”
