Swemmer deel Olimpiese ervaring
Om jou land by die Jeug Olimpiese Spele te verteenwoordig en boonop 'n eerste plek in die uitdunne van die 50m-vryslag los te swem, is nie almal beskore nie.

Na 18 dae in die hoofstad van Jiangsu, Nanjing, China het die swemmer van Penryn College, GJ Richter (18) Saterdag op die lughawe van Matshapa, Swaziland geland.
Dinsdag 12 Augustus het Richter saam met drie atlete en drie beamptes van sy geboorteland na Sjanghai gevlieg. Daarna het ‘n bus hulle na die Olimpiese dorp in Beijing vervoer waar amper 3 000 atlete van 204 lande tuisgegaan het. “Die openingseremonie het Saterdag plaasgevind en ek het die 19de deelgeneem. Dit was ‘n skouspelagtige aand gewees en die ongelooflikste oomblik was toe die fakkel wat die spele amptelik open, aangesteek is,” vertel Richter.
Beijing is ses uur voor Suid-Afrikaanse tyd – Dinsdag om 04:00 ons tyd het die matriekleerder uit die blokke van die Nanjing Olimpiese Sportsentrum weggespring en met ‘n tyd van 26:15 klaargemaak, en ook sy persoonlike beste tyd verbeter. “Ek was verskriklik op my senuwees en my bene het soos jellie gevoel.” Hy het nie na die volgende ronde deurgedring nie.
Gedurende die res van sy avontuur, het hy na ander sportsoorte soos atletiek, boks, gimnastiek en boogskiet gaan kyk en het ook die stad gaan verken. Atlete het ook die geleentheid gekry om motiveringspraatjies by te woon wat oor lande se instrumente, die verskillende kulture en kossoorte gehandel het. “Ek en een van my spanmaats het verdwaal. China is ongelooflik groot en om hulle taal te verstaan of te praat was uitdagend. Niemand kon ons help met aanwysings nie, maar ons het oplaas ons pad terug gevind.”
Alhoewel rotte en duiwe as disse op spyskaarte verskyn, het die Olimpiese komitee voorsiening vir elke kultuur gemaak. “Die eetsaal bestaan uit drie verdiepings met twee eetsale op elke vloer. Meditereense, Europese en kontinentale kossoorte is daagliks bedien. Die enigste dis wat ek geëet het wat dalk vreemd is, was bamboesspruit saam met garnaal, varswatermossels en boontjies.”
‘n Nog groter hoogtepunt was toe hy as Swaziland se vlagdraer by die afsluitingseremonie aangewys is. “Dit was ‘n ongelooflike groot eer. ‘n Aand voor die tyd het al die verteenwoordigers ‘n funksie saam met die president van die Internasionale Olimpiese komitee, Thomas Bach bygewoon. Hiér het die atlete die geleentheid gehad om vir Bach vrae te vra óf ‘n voorstel vir die volgende spele te maak. “Ek het ‘n versoek gerig dat daar meer vermaak vir die atlete na 22:00 moet wees. Daar is niks vir ons om na dié tyd aan te vang nie en ons wou graag soveel as moontlik gaan verken.” Richter noem dat die Swaziland-regering mooi na hulle gekyk het en oorgenoeg sakgeld vir die atlete gegee het om geskenke huis toe te neem.
Vir nou wil Richter sy rekordeksamen agter die rug kry, wat reeds Maandag met biologie afgeskop het. Sy volgende mikpunt is die Olimpiese Spele 2016 wat in Rio de Janeiro, Brasilië plaasvind. Sportaanhangers kan verseker wees dat die berig nie die laaste oor dié talentvolle swemmer is nie.




