Local sportSport

Die Pumas is reg om naels te wys

Die afrigters van die Steval Pumas, Jimmy Stonehouse en MJ Mentz, het 'n onveranderde vyftiental aangekondig wat dié naweek teen die Toyota Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein kragte meet.

Hennie Skorbinski vervang die heelagter Coenie van Wyk op die plaasvervangersbank.

Twee van die Pumas sal Saterdag in die Rose-stad mylpale behaal. Die agsteman, Renaldo Bothma (25) speel sy 50ste wedstryd nadat hy in 2012 sy debuut in die Pienktruie gemaak het. Die 1,90m reus het in vier Absa Curriebeker-wedstryde vier drieë gedruk.

Marius Coetzer, die lynstaanspesialis, sal sy 80ste wedstryd vanuit die plaasvervangersbank maak nadat Frikkie Spies deel van die beginspan is. 
Die Steval Pumas het in hul eerste ontmoeting teen die Cheetahs vroeg in Augustus op Mbombela met 28-21 geseëvier. Stonehouse meen egter dat tuisveldvoordeel ‘n geweldige groot impak op ‘n wen of verloor maak. 

“Dit ontwrig nie ‘n span nie – jy slaap in jou eie bed, jy eet jou eie kos en jy speel voor jou mense. As ons ‘n bonuspunt kan aanteken, selfs gelykop speel of met minder as sewe punte verloor, sal dit vir ons goed wees. Ons gaan probeer om die balbesit te hou en om nie te veel te skop nie. Die spelers weet tans wanneer om te skop, wanneer om te hardloop en wanneer om die bal te hou.”

Die Pumas speel hul volgende drie wedstryde weg. “Die feit dat ons 15:00 en nie later speel nie, is ‘n groot bydraende faktor en ons is bly daaroor. Ons konsentreer nie juis nou op die ander wedstryd nie. Ons is gemaklik met die Cheetahs op hul tuisveld. 

“Hulle speel goeie rugby tans, maar ons behoort goed te doen.”

Mentz het groot lof vir die Cheetahs se agterlyn en senterpaar. “Franco Smit, JP du Plessis en Francois Venter is opwindende spelers en ander soos Willie du Plessis is ook goed. Hulle sal hardlooprugby teen ons wil speel. Ons sal agterlangs op ons hoede moet wees.”

Die Laevelders se lynstane was in die afgelope twee wedstryde nie op standaard nie, maar Stonehouse en die span het hard in die week gewerk om die kodes in orde te kry.

Hennie Homann@ Steval Pumas
Hennie Homann@ Steval Pumas

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button