Skaakspelers maak die regte skuiwe
Die tweede geleentheid vir skaakspelers om aan 'n toernooi volgens hul ouderdomme deel te neem, het die naweek in Curro College se skoolsaal plaasgevind.

Die vorige toernooi, soortgelyk aan die bogenoemde, is vroeg in Julie by Laerskool Witrivier gehou.
Die eerste ronde van die Ehlanzeni AGE-toernooi het om 07:30 afgeskop met die laaste ronde wat om 18:00 geëindig het. Die De Goede Top-10 vind oor ‘n week in Mbombela plaas.
Die o/10-speler, Ruan Venter van Curro, het na die eerste plek opgeskuif met ‘n puntetelling van vier (solkoff 16, cumulative 11, sonnebb 13) nadat hy in Witrivier ‘n tweede plek verower het. Die Laerskool Laeveld-speler, Joshua van Heerden het óók twee plekke opgeskuif na die derde plek met vier punte (solkoff 14, cumulative 13, sonnebb 10). Rynhardt van der Linde, óók van Curro het nie in Witrivier deelgeneem nie, maar het tweede by Curro gekom. Die twee Bergies, Nathan Douglass en Liam Pringle, het onderskeidelik in die vierde en vyfde plek geskitter.
Dié dogterskaakspeler Suné du Preez van Laerskool Lydenburg, wat nie onderskat moet word nie, het in die afgelope twee toernooie die eerste plek vir o/12’s ingeneem met vyf punte (solkoff 15, cumulative15, sonnebb 15). Sy is ook gekies om aan die Wêreldskaaktoernooi wat September in Durban plaasvind, deel te neem.
Martiens le Roux van Witrivier het ook verbeter en vier plekke opgeskuif om tweede te eindig. Andeon Pringle van Bergland het baie hard geoefen om van die 16de plek na derde te beweeg.
By die o/14’s het George Visser van Laerskool Nelspruit ‘n goud gekry met ‘n puntetelling van 4,5 (solkoff 15.5, cumulative 14, sonnebb 13.75). Jaden Minnaar van Bergland was tweede en Marnevic Muller van Laeveld derde. Alexander van Wyk wat in Witrivier eerste gekom het, het ‘n slegte dag op die skaakbord beleef en vyfde gekom. Jaden het met 10 en Muller het met 12 plekke verbeter.
Lowveld High se Mzwandile Lubisi het tweede in die o/16-kategorie geëindig. Mpumelelo Mohlala van Curro het eerste by die toernooi in Witrivier gekom en was Saterdag vyfde.
Die gesoute skaakspeler, die o/18’s se Abraham Visser van Hoërskool Nelspruit, se uitkloppotte van 16, 13 en 11,5 het aan hom ‘n eerste plek besorg. Rickus-Johann Henning van NHS, Vuyani Ndlovu van LHS, Pierre Dorey van Curro en Simon Attwood van Penryn het ook uitstekend gevaar.
