Die bejaardes se bene is gebou om te hou
"Jêmblikke, visblikke drie by drie. Weet julle, weet julle wie?" Wie kan die lekker atletiekliedjie onthou?

Dit was een van vele deuntjies wat deur Laerskool Laeveld se sportgronde by die jaarlikse Poppie Marx senior sportdag weergalm het.
Die vyf huise, Nelspruit, Nelsville, Malalane, Lydenburg en Daantjie, het hulle atlete luidkeels aangemoedig.
Die idee agter die sportdag vir bejaardes het 11 jaar gelede tydens ‘n tafelgesprek tussen me. Poppie Marx en mnr. Faan Lochner begin. “Die saadjie is gevoed en kos gegee en meer as ‘n dekade later groei die dag steeds,” vertel Marx. Hierdie spontane idee is haar breinkind.
Lydenburg het wéér die trofee omhoog gehou en Daantjie het tweede gekom. Die geesbeker is aan die blou span van Malalane oorhandig. ‘n Mens kon sien dié span het voor die tyd aan liedjies soos “Bobbejaan klim die berg”, “Afrikaners is plesierig” en “Ema Hoelema” geoefen.
Die eerste item, aflos, het om 09:00 begin en daarna het die bejaardes aan die 100m-vinnigstap deelgeneem. Persone wat hulpmiddels gebruik, is ook die kans gegun om te wys dat daar nog baie energie in hul pype sit. Panda March (62) het stof in die ander deelnemers se oë in die blikkie-op-die-kopresies geskop.
“Daar gaan baie beplanning in so ‘n dag in. Ons is reeds besig met volgende jaar se program,” sê die nasionale koördineerder van Guardian Angels, Marcel van Doorn.
Dankie aan St. Peter’s se trom-poppies, Anita en haar span, Stevenson’s Hamilton-doedelsak-orkes, die seremoniemeester, Roelf van Jaarsveld, die beampte Chris Welgemoed, Laerskool Laeveld, SPAR en al die leerders wat op die dag uitgehelp het.
