Spelers van regoor SA behaal goeie tellings
Gholfspelers van regoor die land moes die afgelope naweek hulle langste en akkuraatste houe tydens vanjaar se Nkangala Mpumalanga Ope-kampioenskappe speel.

Nelspruit Buiteklub het dié strawwe provinsiale toernooi, wat op ‘n houespel-basis beslis is, aangebied.
‘n Totaal van 116 spelers, waarvan slegs 65 tot die laaste ronde deurgedring het, het deelgeneem.
Onder die plaaslike deelnemers het slegs Lourens Volschenk van Lydenburg onder die top 10 geëindig, met ‘n totaal van 282 houe in vier rondes – ses onder baansyfer. Sy beste ronde van 69 houe was nie te versmaai teen van die land se beste spelers nie, maar was dus nie genoeg om bo te eindig nie en was ‘n volle 14 houe agter die wenner, David Meyers.
Hy het in dié vier rondes, en 72 putjies met 20 onder baansyfer geëindig.
Volschenk het egter nie so goed soos gewoonlik gevaar nie. Hy het reeds talle oorwinnings agter sy naam, maar in dié toernooi moes hy die 10de plek met Andi Dill deel.
Die ander 19 Mpumalanga-spelers het egter ver onder die top 10 geëindig. Kevin Smit het saam met vier ander nie-plaaslike spelers in die 19de plek geëindig, met twee onder baansyfer.
Kort op sy hakke was Jasp van der Westhuizen en Donovan de Vries met een onder baansyfer.
Anton Steenkamp van Mbombela het op twee oor baansyfer geëindig. Steven Morrison het die dag met vier oor baansyfer afgesluit, en het gesamentlik in die 31ste plek met Devon Strydom geëindig.
Rikus Nel van Barberton het 11 onder baansyfer geëindig, en was die laaste plaaslike speler wat die top 50 gehaal het. Jacques du Preez, Steven Schnetler, Ryk Lacock, Wayne Lesch en Jaco Pretorius het die dag op meer as 12 oor baansyfer geëindig.
Volgens die organiseerders van dié provisiale toernooi was dit uiters suksesvol.
Bogenoemde uitslae word nou gebruik om beide die Suid-Afrikaanse sowel as die wêreld-amateurgraderings by te hou.
“Met gholf kan individuele sukses gemeet word aan die uitslae van elke persoon. Indien die toernooi tot ‘n normale einde kom, met ander woorde sonder onderbreking, kan dit as suksesvol beskryf word.
“Die baan was in puik kondisie vir hierdie tyd van die jaar. Dit is dan ook in die goeie tellings wat behaal is weerspieël, sê Rinus van Niekerk, een van die organiseerders.
