Top-rugbyman van NHS reis na Midde-Ooste
Hy gaan die vrugte van sy harde werk pluk wanneer hy eersdaags die onbekende Verenigde Arabiese Emirate se nasionale span in die woestynagtige toestande aanpak.
‘n Reis na Dubai is nie vir elke 16-jarige beskore nie, maar danksy rugby kan een van Hoërskool Nelspruit se top-rugbyspelers, Dewald Maritz nou die wêreld verken. Maritz vertrek volgende maand saam met die Noordvaal-o/16-span na die Verenigde Arabiese Emirate waar hul vanaf 3 tot 13 Oktober teen plaaslike klubs en die nasionale span sal speel.
Dewald het nie die Grant Khomo-o/16-span gehaal nie, maar het besluit dat hy nie sal opgee nie en het toe tydens wedstryde in Vereeniging gekwalifiseer.
Hy gaan die vrugte van sy harde werk pluk wanneer hy eersdaags die onbekende Verenigde Arabiese Emirate se nasionale span in die woestynagtige toestande aanpak.
“Ek is baie opgewonde oor die toer en om soveel blootstelling as moontlik te kry en net rugby te speel,” sê hy. Hy wil eendag vir die Springbokke uitdraf en wil ook in Frankryk gaan speel.
“Na matriek wil ek graag oorsee gaan speel en ‘n beroep daarvan maak. Dit sal belangrik wees om ‘n goeie kontrak te kry en in ‘n goeie sisteem te speel,” sê die kranige agtsteman wat ook al op stut uitgedraf het.
Volgens hom gee NHS hom hierdie geleentheid omdat dit een van die beste rugbyskole in die land is, wat selfs die huidige Springbok-agtsteman, Duane Vermeulen opgelewer het.
Sy passie vir rugby het al vroeg op Laerskool Bergland se velde begin toe hy in gr. 3 vir die skool uitgedraf het. “Die gogga het my daar gebyt!
“Die beste aspek is die adrenalien en hoendervleis wat ‘n mens kry wanneer jy ‘n wedstryd speel.
“Die skare wat skree, juig en jou op die veld aanmoedig om daardie ekstra bietjie te gee, is vir my baie lekker.”
Dit is veral die geval wanneer hulle teen HTS Middelburg en Hoërskool Monument te staan kom, wat twee van die skool se groot teenstanders is.
Vir dié wedstryde meen Dewald dat ‘n mens veral as agtsteman gedurig in die aksie betrokke is.
“Om ‘n goeie agtsteman te wees moet jy fiks wees en bereid wees om baie te hardloop,” sê hy.
Hy berei homself altyd op ‘n spesifieke manier voor vir ‘n taai stryd.
“Ek luister gewoonlik musiek om my senuwees te kalmeer en dan sal ek my trui neerlê en ook ‘n kort gebed opsê. Die sleutel tot sukses lê daarin om hard te werk en daardie ekstra te gee wanneer ‘n mens op jou laaste is. Harde werk en deursettingsvermoë is baie belangrik om die hoogste vlakke van die sport te behaal. Vir nou gaan ek positief bly en elke oomblik geniet,” sê Maritz.
