Local sportSport

Atlete warm op vir seisoen

Atlete het Woensdag hulle litte vir die nuwe seisoen begin losmaak deur aan 'n vriendskaplike byeenkoms by Hoërskool Nelspruit deel te neem.

Die uitmergelende hitte van die Laeveld het atlete van Rob Ferreira, Lowveld High (LH), Lydenburg, Barberton, Bergvlam en Hoërskool Nelspruit (NHS) tot die uiterste van hul vermoë getoets. 

Op die hoogspringmat het Biance Jansen van Vuuren (o/17-dogters) van Nelspruit met ‘n hoogte van 1,5m oor die lat gevlieg. Nóg ‘n dogter wat die oë laat rek het, was die atleet van Lydenburg, Tabeel Zeeman. Sy neem in dogters o/15 deel en het ook met ‘n hoogte van 1,5m geslaag. Joshua Maas van NHS het die hoogste van al die atlete gespring: 1,6m.

Werner Bouwer (o/17-seuns) het die spies oor ‘n allemintige afstand van 54,71m deur die lug laat trek. 

Die Afrika Jeugspele-atleet, Danél Bieldt het vir aanstaande jaar se seisoen afgeskop met ‘n afstand van 40,32m (haar persoonlike beste afstand is 47,63m).

Net Marnus van der Merwe van NHS kon dit regkry om die werpskyf oor die 40m te gooi. Corlia van der Merwe (o/15-dogters) van Bergvlam het met ‘n afstand van 4,85m ‘n eerste plek in die verspringput verower. Norbert Ponnisammy (LH) het sand in sy mededeelnemers se oë geskop toe hy die maatbaand tot op 6,44m laat uitrek het. 

Op die baan was dit wéér Norbert wat naam gemaak het – die 17-jarige het die 100m in 10,2 sekondes voltooi. Nellies se Ruan Groenewaldt (o/15-seuns) het met 14,3sek die vinnigste tyd in die 100m-hekkies gehardloop. Die gasheerskool se Wandla Nkosi (o/17-seuns) en Gronighan Grobler (o/19-seuns) het onderskeidelik die 800m in 02:02 en 02:00 voltooi. In die 2000m was dit Bongani Msibi van Bergvlam wat die item in 06:06 minute gewen het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button