Spelskepper verlaat die Laeveld
Na vier jaar se skouspelagtige rugby by die Steval Pumas, sal Coenie van Wyk aan die begin van November sy loopbaan in die Rosestad voortsit.

Die Toyota Vrystaat Cheetahs het reeds aan die begin van die Superrugby-seisoen belangstelling in hom getoon waarna hy onlangs ‘n twee jaar lange kontrak met die gekoldes geteken het. Daarna beplan hy, mits alles goed verloop, om rugby oorsee te gaan speel.
Gedurende sy tydperk by die Pumas het hy altesaam 290 punte tot dusver aangeteken – (69 – 2011, 32 – 2012, 35 – 2013 en 20 – 2014).
Hy was by die Leeus se Superrugby-groep vir 2014 ingesluit waar hy agt wedstryde vir hulle gespeel het – hy was op die plaasvervangersbank vir die Johannesburgers se eerste wedstryd teen die Cheetahs in Bloemfontein. Hy het sy debuut later teen die Stormers gemaak en gedurende dié tydperk het hy een drie gedruk.
Vir die span se toer na Perth, Australië het hy en sy mede-Pumasspanmaat, Stefan Watermeyer ‘n kamer gedeel. “Stefan is ‘n rustige mens en kyk graag televisiereekse, veral That 70’s show, maar as iets gedoen moet word, moet dit onmiddellik gebeur.” Watermeyer meen egter dat Van Wyk hom selde op sy senuwees maak. “Coenie is verdraagsaam en baie geduldig.”
Van Wyk het aan die einde van 2010 by die Pienkes aangesluit nadat hy vier maande vir die GWK Griekwas uitgedraf het. Vir die manne van Kimberley het hy drie wedstryde gespeel en altesaam 27 punte aangeteken. Hy het eers in 2012 na heelagter geskuif. Daardie selfde jaar het hy een wedstryd vir die Suid-Afrikaanse Barbarians gespeel. In 2013 was Van Wyk deel van die Suid-Afrikaanse Presidente XV-span wat die Tbilisi-beker gewen het.
Hy is in Bellville in die Wes-Kaap gebore waar hy as ‘n gr. 1-leerling by Laerskool Lochnerhof ingeskryf het. Hy het eers in gr. 6 rugby begin speel en op losskakel begin.
Geleë op die oewer van die Eersterivier, met die Stellenboschberg as agtergrond lê Hoërskool Paul Roos Gimnasium waar Van Wyk o/18-Cravenweek vir die Westelike Provinsie gespeel het. Na skool is hy na die Maties Rugbyklub waar hy in 2008 en 2009 vir Maties se Varsitybekerspan gespeel het en gedurende die tyd het hy ook vyf wedstryde vir WP se Vodacombeker gespeel.
