Bothma dalk uit vir WP-stryd
Die Xerox Golden Lions het reeds in die 44ste minuut van hul wedstryd teen die Steval Pumas Vrydagaand op Ellispark voor 'n skare van 6 010 'n bonuspuntdrie aangeteken en uiteindelik gemaklik met 29-15 gewen.
Die Pumas het nog net twee keer (die eerste keer in 1996 en weer in 2010) in Johannesburg koning gekraai.
Die tuisspan se vertoning was beslis van die beste rugby wat nóg op Ellispark gespeel is, terwyl die Pumas glad nie vir dié stryd opgewasse was nie. Hulle het darem tot die bittereinde teruggeveg.
Skeidsregter Jaco van Heerden was nie skaam om sy geelkaarte uit te deel nie. Die vleuel Trompie Pretorius is in die 11de minuut afgejaag nadat hy ‘n speler in die lug geduik het en die haker, Frankie Herne is kort voor die einde van die kragmeting ook koelkas toe nadat hy die Leeus se Derick Minnie met ‘n hoogvat gery het.
Name soos die 1,99 meter lange Lubabalo Mtyanda, Stefan Watermeyer, Corné Fourie en Renaldo Bothma moet vir hul uitstekende vertoning geprys word. Die groot vaskopstut Vincent Koch, wat ‘n tawwe leerskool in die skrums gehad het, het in die 81ste minuut vir die Pumas se tweede drie oorgeduik. Hul eerste drie in die 67ste minuut is deur die senter Watermeyer gedruk toe hy Minnie taamlik maklik aan sy buitekant geklop het. JC Roos wat ook ‘n onderskepdrie gedruk het, maar wat nie toegeken is nie nadat Herne vir ‘n hoogvat afgestuur is, kon die telbord heel anders laat lyk het.
Die Pumas se skrum het tonge in die afgelope wedstryde teen die Cell C Sharks, die GWK Griekwas en die Toyota Vrystaat Cheetahs los gehad, maar die Leeus het hulle behoorlik ‘n skrumles gegee. ‘n Ander aspek wat hulle hierdie seisoen wedstryd na wedstryd kniehalter, is hul lynstane wat tot hul nederlaag bygedra het.
Die brekeragsteman, Renaldo Bothma moet vandeesweek vir ‘n skandering gaan nadat hy sy bobeen vroeg in die wedstryd beseer het. Geen ander spelers is op die krukkelys vir die span se agste ronde van die Curriebekerwedstryd teen die Westelike Provinsie Vrydagaand in Mbombela nie.
Die wedstryd word nie uitgesaai nie en rugbygeesdriftiges word gevra om ons manne onder die Laeveldsterre te ondersteun.
