Groot opwinding heers oor Cravenweek
“Die standaard van die vorige Cravenweke was baie hoog. Ons beoog self om daardie hoë standaarde te behou, maar ook iets anders by te voeg wat dit vir die seuns lekker sal maak.”

MBOMBELA – Die 2015 o/13-Cravenweek vind volgende jaar in die Laeveld plaas nadat die gesogte toernooi aan die Pumas Rugby-unie toegeken is.
Die 44ste Cravenweek gaan vanaf 28 Junie tot 3 Julie 2015 by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier plaasvind.
Tot dusver is daar 50 wat in dié week gespeel het en wat reeds die groen en goud oor hul koppe getrek het.
Met die dat die toernooi in die Laeveld plaasvind, is daar ook ’n plaaslike organiseringskomitee aangestel wat uit 64 onderwysers bestaan. Ade Adendorff, toernooisekretaris van die week, meen dat hierdie toernooi een van die belangrikste rugbygebeurtenisse is en dat ‘n hoë standard dus gehandhaaf moet word.
“Die standaard van die vorige Craven- weke was baie hoog. Ons beoog self om daardie hoë standaarde te behou, maar ook iets anders by te voeg wat dit vir die seuns lekker sal maak.”
“Ons beplan om die seuns en die bestuurspan na Nkambeni vir ‘n kamp te neem. Dit pas ook by die tema in van die Groot Vyf van die 2015 o/13 Cravenweek,” het hy genoem.
Die Craven Week is die breinkind van dr. Danie Craven, sekerlik Suid-Afrika se vader van rugby, en is in 1972 vir die eerste keer vir laerskole in Potchestroom aangebied.
Daar is ook heelwat hoë-profiel sportlui wat aan die week deelgeneem het, soos voormalige Protea krieketspelers, Hansie Cronje, Boeta Dippenaar en Mark Boucher, asook bekende Springbokke soos Corné Krige, Joel Stransky, Schalk Burger en Jean de Villiers.
Volgens Adendorff is daar 18 unies wat aan die toernooi gaan deelneem.
“Saam met hierdie unies sal daar ook buurstate deelneem, wat Zimbabwe en Namibië insluit. Daar sal 396 seuns in die week speel. Ons beplan ook om drie tot vier funksies vir die skeidsregters en beamptes asook drie aande van vermaak vir die seuns te reël,” vertel Adendorff.
Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) se beamptes het ook verlede week die Laeveld kom besoek om seker te maak dat alles sover in plek is en dat die velde en fasiliteite in ‘n goeie toestand is.
Daar sal nege wedstryde per dag gespeel word. Volgens Adendorff word borge vir die toernooi benodig. Belangstellendes kan gerus vir Ade Adendorff by 084-401-4739 skakel.
Die 2015 o/13-Cravenweek kan ook op sosiale media by:
Twitter: @U13CRAVENW2015
Facebook: Facebook/u13-Coca-Cola-Craven-Week-2015 gevolg word.
