Laeveld Pumas kraai koning in sewestoernooi
Die Luiperds se eerste drie laat in die tweede helfte, was die eerste keer dat hulle deur die Pumas se deurgaans goeie verdediging kon breek.

‘n Triestige Saterdag op die rugbyveld is opgevrolik toe die Laeveld Pumas in die Noordelike Unies se provinsiale sewes-rugbytoernooi koning gekraai het. Dit is by Hoërskool Rob Ferreria aangebied.
Die Laeveld Pumas het in die bekerfinaal met 17-12 met die Luiperds B afgereken om die algehele wenners op die dag te wees. Hulle was van die begin af voor en het deurgaans ‘n aanval van hul eie doellyn geloots.
‘n Taktiese skoppie het tot hul eerste drie gelei en die ‘n geslaagde doelskop het die Pumas 7-0 voorgeloop. Aanhoudende druk het hul tweede drie moontlik gemaak en die span het teen rustyd met 12-0 voorgeloop.
Die Pumas het deurgaans goed verdedig. Die Luiperds se eerste drie laat in die tweede helfte, was die eerste keer dat hulle deur die verdediging kon breek.
Maar in die tweede helfte het die Luiperds nietemin die meeste balbesit geniet en aanvallende rugby gespeel. ‘n Tweede drie het die telling in die doodsnikke van die wedstryd gelykop gemaak.
Die Pumas kon egter nog ‘n aanval loots en het daarin geslaag om nog ‘n drie aan te teken. Hul balhantering en verspreiding in die nat toestande was spreek van topgehalte rugby.
Die Luiperds A het die plaatfinaal teen die Blou Bulle 22-15 gewen.
In die bowl-finaal het die Hoëveld Pumas egter weer gewen. Dit was ‘n taai stryd teen die Valke en die telling het telkens wipplank gery. Tog kon die Pumas met 14-12 die Valke troef.
In die skildfinaal was Laeveld B egter nie so gelukkig nie. Die Limpopo Blou Bulle was heeltemal te sterk vir die plaaslike span. Hulle het baie meer balbesit gehad en het lag-lag met 38-0 gewen.
Sien meer foto’s hier.
